Gedagte vir die dag: Dagbreek-genade – dis joune!

Sonsopkoms-strand-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al hoe helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle gestruikel het nie. (Spreuke 4:18-19)

As jy al in die donker gelê en rondrol het, sal jy weet daar’s min dinge so welkom soos die deurbreek van die oggendlig deur jou venster. Dis asof ’n mens weer nuwe moed kry vir die dag; vir die pad vorentoe. Want lig sê: Daar is hoop. Daar’s ’n nuwe begin. Daar is weer kans om vars na dinge te kyk omdat die donker agter jou lê. Daar is weer nuwe geleenthede vir dinge doen, vir verhoudingsbou, vir antwoorde vind, vir groei … vir léwe.

Maar die sagte lig wat volg ná ’n donker nag sê ook soveel meer: Dit bevestig weer die Vader se waak-oor-ons, sy wil-jouseën-goedheid, die grootheid van sy skepping, die omvang van sy genadesfeer en sy onwankelbare beloftes. Want saam met naderskuif van die dag, word ons bewus van die afwagtende getjirp van die voëls wat op ’n manier sê dat hulle wéét daar sal, soos gister, ook vandag vir hulle gesorg word.

Vandag is ’n nuwe dag van genade, geleenthede en groei. Omhels die strale van God se goedheid en vier sommer net weer jou menswees. En die feit dat die Lig self in jou is.

Ek kies om vandag binne u genadesfeer te leef, Here.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.