Gedagte vir die dag: Dalk lê die oplossing elders

Vrou_arms_uitgestrek_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Wanneer my probleme my onderkry, het U my elke keer gehelp, Here. U sorg vir u kinders met u liefde! (Psalm 94:18, Die Boodskap)

Miskien is jy vandag radeloos omdat dit voel of jou probleme maar net nie wil ophou nie. En dalk het jy al alle kanale gevolg om antwoorde te probeer kry. Miskien lê die oplossing dan nie in die “oplossing” nie, maar in iets anders. Dalk moet daar juis nié ’n uitkoms wees nie … omdat God jou iets ánders wil leer.

Dalk gaan dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie … omdat Hy ’n beter plan vir jou het. Miskien is dit wat jy nou moet beleef, baie sleg … maar eintlik ’n stuk seën in jou mensvorming.

Ons aardse probleme staan soms soos ’n Kilimanjaro voor ons terwyl ons wonder hoe ons bo gaan uitkom. Dis dikwels die tye wat ons ’n nuwe Krag in ons ontdek: ’n stuk diepte wat ons nie voorheen gehad het nie. Maar dis ook soms tye wat ons Vader ons wil laat afsien van die berg voor ons, ons in ’n ander rigting wil stuur of vir ons wil wys hoe om nie bo-oor nie, maar óm die berg te loop … al neem dit langer.

Gaan sit vandag met ’n oop gemoed voor die Vader oor die dinge waarmee jy stoei. Laat Hom toe om jou te help om sonder enige vooropgestelde idees daarna te kyk. Jy sal hoor hoe Hy vir jou sê: “Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs” (Jesaja 30:21).

Ek vind rus in die wete dat U weet waarheen.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.