Gedagte vir die dag: Dankbaarheid oor elke wonder

God-sentrum-van-my-lewe

Foto: Danielwhyte3.com

Lees: 1 Tessalonisense 5:12-24

Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tessalonisense 5:16-18)

Ann Voskamp vertel in haar boek One Thousand Gifts een van haar vriendinne het haar uitgedaag om ’n lys van duisend dinge waarvoor sy dankbaar is, op te stel. Terwyl sy hiermee besig was, het sy ontdek dat sy self besig was om te verander, dat sy oral om haar nuwe redes tot dankbaarheid raaksien. Ann se lys bevat alledaagse dinge soos die reënboogkleure in die seepborrels wanneer sy skottelgoed was, die reuk van skoon wasgoed, om warm eiers te was, warm koekies, die lied van ’n voëltjie, ensovoorts. Algaande het Ann se huiswerk waarteen sy eers so opgesien het (sy is ’n boervrou sonder hulp in die huis met ses kinders vir wie sy tuis onderrig), vir haar ’n vreugde geword. Sy het besef élke vreugde was eintlik ’n geskenk waarvoor sy God wou dank.

Daar is ’n manier waarop ’n mens dit kan regkry om in alle dinge dankbaar te wees, en dit is om dankbaar te wees vir elke klein dingetjie.

Wil jy nie Ann se voorbeeld volg en in die vervolg vir alle dinge in jou lewe vir God dankie sê nie? Ook vir seerkry en swaarkry omdat hierdie dinge jou geestelik laat groei. As jy weer iets baie mooi raaksien, deel jou verwondering in gebed met God, sodat dit vir jou ’n manier van lewe sal word om in alles dankbaar te wees en elke dag met verwondering te leef.

Hemelse Vader, dankie vir al die wonders wat elke dag deel is van my lewe. Elkeen van hulle is ’n geskenk van U, selfs die minder aangenames! Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.