Gedagte vir die dag: Dankbaarheid

Blom_veld_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tessalonisense 5:18)

Elke nou en dan tref die blues my soos ’n onverwagte klap deur die gesig. Ek voel angstig, oorweldig, terneergedruk of moedeloos – of sommer al vier. Die beste bruistablet as teenvoeter vir hierdie onaangename gaste in my lewe is dankbaarheid. Wanneer ek dankbaarheid innooi, verdryf dit die blues – nes Jik die vlekke uit my afdroogdoeke haal.

Ek begin fokus op alles waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek tel letterlik my seëninge – van klein tot groot. Ek maak vir my ’n heerlike koppie sterk filterkoffie, gooi suiker en melk by en dink met al groter bewustheid aan al my voorregte.

Ek is bevoorreg om my koffie in die sonnetjie te kan geniet. Ek is bevoorreg om soveel dinge te hê wat ek dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Ek kyk met nuwe, dankbare oë na my tuin en verlustig my in die kleurvolle kreatiewe meesterskildery. Ek luister met nuwe ore na die CD met die klank van voëltjies en die briesie wat deur die bome waai.

Ek maak ’n mental note van alles waarvoor ek dankie kan sê: al my sintuie wat werk, my gesondheid, my huis, my motor, my kaste vol kos en klere. Ek raak bewus van die Here se daaglikse voorsiening in my lewe op soveel ontelbare maniere. Ek dink aan my familie en hartsvriende en my worshond se liefde, ondersteuning en vriendskap.

Ek dink aan die talente en genadegawes wat ek ontvang het en wat Hy seën.

En wanneer ek weer sien, bruis my innerlike mens van dankbaarheid.

Here, help my om my fokus te verskuif na alles wat ek het om voor dankbaar te wees.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MADELEEN ·

Dankie Here vir alles wat U vir my in voorsien en my dra in moeilike tye. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.