Gedagte vir die dag: Dankie-sê laat jou goed voel!

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: living365withjesus.wordpress.com

Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie? (Lukas 17:17-18)

’n Mens kan nogal op jou knieë bly wanneer probleme jou lam maak. Dan is dit maklik om te bid en te vra. En natuurlik mag ons. Maar ai, tipies menslik is dit so maklik om, wan- neer die krisis oor is of die probleem uitgesorteer is, te vergeet waar jy was. Te vergeet om jou Vader te dank vir die pad wat julle twee kon loop, vir die antwoorde wat Hy gegee het, vir die reis wat julle saam kon onderneem.

Melaatsheid was in Jesus se tyd meer as net ’n siekte. Dit was ’n stigma. Iets wat aan jou gekleef het sodat ander nie naby jou wou kom nie. Daarom is dit nie vreemd om te lees hoe tien melaatses Jesus gesmeek het om hulle te genees nie. Hy doen dit. En dan lees ons hoe nege van hulle in vreugde stad toe hardloop om hulself aan die mense te vertoon en … net een omdraai om vir Hom dankie te sê. Net een onthou waar hy gister was. Hoe hooploos alles gelyk het. En hoe God hom nou gered het.

Mag ek en jy nooit vergeet om ná moeilike tye om te draai en voor ons Heiland te gaan kniel nie. Mag ons dankbaarheid net so intens wees soos ons smeekgebede.

Ek kyk terug met dankbaarheid en vorentoe met moed, Vader.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.