Gedagte vir die dag: Dankie vir liefde en geloof

Bos_Pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie … (Efesiërs 1:15-16)

In die briewe wat Paulus aan medegelowiges in die vroeë gemeentes geskryf het, lees ons dikwels hoe hy sy dank teenoor hulle uitspreek.

Aan die Romeine skryf hy byvoorbeeld: “Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof ” (Rom 1:8). En aan die gemeente in Efese: “Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie …” (Ef 1:15-16).

Ook die gemeente in Tessalonika word van harte bedank: “Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer” (2 Tess 1:3).

Waarom sou Paulus so oorvloedig dankbaar wees? Oor hul geloof. Hy skryf immers oor hulle geloof wat groei en wat sterker word. Én oor hul liefde wat toeneem en verdiep en elke dag meer en meer word.

Dis juis waarvoor hy hom uit die staanspoor beywer het, en nou sien hy dit in hul lewe. Hy weet ook dat sy uitgesproke waardering hulle sal bemoedig en versterk.

Dís wat dankie-sê doen. Dit moedig ons aan om méér te word as wat ons reeds is, om gedurig daarna te streef om goeie vrugte in ons lewe te dra. Dis daarom dat Paulus sy dank teenoor God in sy briewe noem.

Mag ons tog ook gereeld ons dankbetuigings teenoor ander uitspreek. Dis vir hulle, en vir ons, ’n versterking op die geloofspad.

Here, help my om vir ander ’n seën te wees deur hulle te vertel hoe dankbaar ek vir hulle is.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GL ·

Dankie Here, help my asb met hierdie een ek vind dit nie altyd maklik nie. Amen

Bertie ·

Here Jesus, ek kom vanoggend wèèr en bid dat ek vir U tot seen sal wees. Ek stel U daagliks teleur my God. Ek is nie wat U wil hê ek moet wees nie. Help my ASB Here want ek gebruik kru taal wat nie strook met ‘n Christen nie, veral as ek kwaad word. Vergewe my asb Jesus. Nie omdat ek dit verdien nie, maar uit genade!

Wollie ·

Weer Corrie ten Boom se boek gelees en gewonder hoe sag en gemaklik ons deesdae is. Kan ons dit hanteer? Asook wat ons voorouers verduur het? Baie dankie, Abba Vader

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.