Gedagte vir die dag: Dapper Saul

karoo_vlakte_2stiltetyd.jpeg

Foto: A. Brits

Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing. Saul het dapper opgetree en sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het. (1 Samuel 14:47-48)

Dis vir ’n mens eendimensioneel duidelik hoekom God Saul as koning laat salf het en hom selfs met sy Gees toegerus het. Ten spyte van sy dwalinge kon niemand sy mag sonder meer uitdaag nie en hy het dapper geveg teen die vyande van sy volk. Israel is nog gereeld aangeval; die tragiese gevolg van sy voorvaders wat nie die land volkome onder beheer gekry het nie. Eintlik was daar vir Saul geen rus as krygsman nie en hy het “elke dapper man van wie hy gehoor het, by hom laat aansluit” (v. 52).

Dit word van Abraham Lincoln gesê dat hy eintlik ’n “oorlogspresident” was. Aanvanklik het hy gesukkel in die stryd omdat sy raadgewers en generaals nie van die beste was nie. Toe hy egter knap generaals gekry het, het die gety vir hom gedraai. ’n Wyse leier is nie bang vir wyse raad nie en versamel die dapperes om hom.

So was Saul (aan die begin). Maar hy het net te dikwels met ’n Samuel naby en omring deur dapperes sy eie kop gevolg. Hy het klaarblyklik so selfverseker geraak dat die Here laat blyk het dat Hy “bedroef” was dat Hy Saul koning gemaak het, “want hy het van My af weggedraai” (1 Sam. 15:11).

Ek het eenmaal ’n ou man in ’n biduur hoor bid: “Here Jesus, ek hoop U kry nooit spyt dat U vir my gesterf het nie.” Dié opreg-eenvoudige gebed roer my tot vandag toe. God verbly Hom in ons sukses, soos in Saul se dapperheid. Maar soos elke goeie ouer verwag Hy ’n eenvoudig-opregte blyk van liefde, al is dit slegs ’n stil, gefluisterde: “Dankie, Here, vir u hand hierin.”

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

“Here Jesus, ek hoop U kry nooit spyt dat U vir my gesterf het nie”

AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.