Dawid en Jonatan – ‘n lewenslange verbintenis

Toe die slaaf weg was, het Dawid opgestaan langs die kliphoop en op sy knieë geval en drie maal vooroor gebuig. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid baie ontroerd geword het. Jonatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte.” Dawid het toe klaargemaak en weggegaan, maar Jonatan is terug stad toe.
1 Samuel 20: 41-42

Soos die geval met enige ware vriendskap, was die vriendskap van Dawid en Jonatan nie eensydig nie. Gister het ons van Jonatan se liefde vir Dawid wat vol opoffering was, gelees en vandag gaan dit oor hoe Dawid vir Jonatan liefgehad en gerespekteer het.

Dawid en Jonatan het hulle vriendskap geseël met die verbond wat hulle in 1 Samuel 20:42 gesluit het, alhoewel dit die laaste keer was wat hulle tyd met mekaar sou deurbring. Hulle het slegs een keer hierna, net voor Jonatan se dood, vlugtig weer ontmoet (1 Samuel 23: 16-18). Hulle vriendskap en die beloftes wat hulle aan mekaar gemaak het, is nie deur geografiese nabyheid of selfs die dood beperk nie. Na Jonatan se dood het Dawid se vriendskap aangehou. Dawid se liefde vir Jonatan was so groot, dat toe hy die nuus van Saul en Jonatan se dood ontvang, het hy ‘n klaaglied geskryf en opdrag gegee dat dié lied aan die inwoners van Juda geleer moet word (2 Samuel 1). Selfs na die dood van Jonatan, het Dawid sy belofte gehou en vriendskap aan Jonatan se afstammelinge bewys. Hy het Jonatan se seun, Mefiboset, onder sy sorg geneem en vir die res van sy lewe vir hom gesorg. Hy het selfs vir Mefiboset uitgenooi om van toe af by hom aan huis te eet (2 Samuel 9).

Dawid en Jonatan kon vyande en mededingers gewees het, en tog, in plaas van jaloesie, haatdraendheid en honger na mag, het hulle gekies om beste vriende te word.

Gebed: Ware vriendskap is ‘n geskenk van U, maar dit is nie maklik nie. Vader, help my om my vriende te waardeer, en selfs wanneer ek hulle nie dikwels sien nie, getrou te bly aan ons vriendskap. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.