Gedagte vir die dag: Dawid

God

Foto: Wattpad.com

Lees: Psalm 51

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. (Psalm 51:3, 5-6)

Terwyl Dawid een middag op sy paleismuur rondloop, sien hy ’n pragtige vrou wat besig is om te bad. Terstond ontbied hy haar na sy paleis, waar hy met haar in die bed spring. Maar hier die aangename uitstappie het gevolge vir die koning … Die vrou, Batseba, laat weet hom dat sy swanger is. Beslis ’n spanningsvolle situasie vir die koning, want Batseba se man, Urija, is een van Dawid se soldate, wat op die oomblik aan die gevegsfront is. Dawid laat hom kom en probeer hom oorreed om by sy vrou te slaap, maar Urija weier omdat sy soldatemakkers in die veld moet slaap. Wanneer hierdie plan misluk, stuur Dawid ’n boodskap dat Urija na die voorpunt van die gevegsfront geskuif moet word, waar hy dan ook sneuwel. Die storie het oënskynlik ’n gelukkige einde, want Dawid trou met die mooie Batseba en hulle seuntjie word gebore.

Die Here is egter nie tevrede nie. Hy stuur die profeet Natan na Dawid toe om hom van sy sonde bewus te maak. Die koning is dadelik bereid om te luister en sy sonde te bely. God vergewe vir Dawid, maar sy en Batseba se seuntjie sterf.

Almal van ons het al foute gemaak wat ons duur te staan gekom het.

Wanneer dit met jou gebeur, erken jou fout en bely jou sonde soos Dawid gedoen het.

Here, U weet van al die verkeerde dinge wat ek doen – ek wil nou my sonde voor U bely en U vra om hulle asseblief te vergewe. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.