Gedagte vir die dag: Deel die liefde

Liefde_seesand_Stiltetyd.jpgEk gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. (Johannes 13:34)

As gelowiges sal ons deur die wêreld geken word aan ons liefde. Ons is anders as die wêreld omdat die liefde van God ons van die ongelowiges onderskei. As Christene word daar van ons verwag om ’n lewe van goeie werke te lei en om eerbare mans en vroue van God te wees. Die wêreld verwag selfs van ons om anders te wees en om volgens ’n ander standaard te leef. Jesus het vir ons ’n baie hoë standaard gestel en ons moet ons bes doen om aan hierdie hoë standaard te voldoen.

Ons is anders omdat ons, in Jesus, die uitgeworpenes liefhet. Ons staan op teen die golf van onderdrukking deur die mense om ons lief te hê, of hulle gelowig is of nie. Ons moet vasstaan en die Here vertrou om vir ons die krag te gee om selfs dié wat teen ons is en ons ondergang wil bewerkstellig, lief te hê. Ons moet doen wat Jesus gedoen het toe Hy op die aarde was: God se liefde in ’n wêreld vol duisternis laat skyn. Sodoende sal ons ’n soet geur afgee, net soos die geur wat Jesus afgegee het, waar Hy ook al gegaan het.

God is liefde (1 Johannes 4:8). Hy is die kern van onvoorwaardelike liefde en ons moet daardie liefde koester en dit met die mense om ons deel sodat ons teen die duisternis kan bly staan. Ons moenie deur die dinge van die wêreld meegesleur word nie, maar eerder op God se verstommende liefde, goedheid en heiligheid konsentreer. Daar is waarlik niemand soos Hy nie.

God het ons trouens só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het om ons van ons sondes te red (Johannes 3:16). Is dit nie wonderlik nie! Jesus het vir ons gesterf en al wat Hy in ruil daarvoor vra, is dat ons Hom met dankbare harte dien en sy onvoorwaardelike liefde met ander deel. Om die waarheid te sê, sy liefde vir ons is so groot dat niks in die hemel of op die aarde ons ooit daarvan kan skei nie (Romeine 8:38-39).

Hemelse Vader, dis net so ongelooflik vir my dat U u eie Seun opgeoffer het om sondaars hier op aarde te red. Sonder my af en bekragtig my om u liefde en goeie nuus met alle mense te deel. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Waar staan dit geskryf dat ons mense wat Christus verag moet omarm? Die naaste moet liefgehe word en die Woord moet oorgedra word aan die ongelowiges. Welsyn sonder die Boodskap is kruip en selfverering en ‘n erkenning van die ander persoon se gode.

HPV ·

John, kan nie anders as om saam jou te stem nie. Bose mense soos sekere midde-oosterse terroriste groeperings is ‘n werklikheid. Nêrens in die bybel staan jy moet die bose, waaronder ook die mense, omarm nie. Ek kon ook nie raaklees dat Christene hulself nie mag verdedig teen sulke mense nie.

JAN ·

Satanisme loop dik onder Afrikaanses Die Media getuig daarvan: Vrydenkers, Ateiste Scientology Ogotters en Antigotters maak geen geheim daarvan nie in Afrikaanse media.
Ek is van Praag verban oor my Calvinistiese grondslag. Op Netwerk24 word alle Christelike kommentaar verbied. Op Breitbart word Christelike kommentaar met op duimpies verwelkom. [ 90% van my briewe.]
Maar met vreugde verneem ons dat dr Roodt groot steun by die europese Christene werf vir ons Volkie.
Moderator se gesonde oordeel mbt die skrywe sal begryp word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.