Gedagte vir die dag: Deel vandag genade uit

mense-op-strand-sonsondergang.jpgWees vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het. (Efesiërs 4:32)

Om iemand te vergewe wanneer hy/sy dit glad nie verdien nie, is om aan hom/haar genade uit te deel. Dis om aan daardie persoon ’n geskenk te gee wat hy/sy nie verwag het nie, dalk nie veronderstel is om te kry nie, maar wat jy skenk … net soos Christus aan jou sy onvoorwaardelike genade en algehele vergifnis gratis gegee het.

Richard Rohr sê dit so treffend: “Genade is God se eerste Naam. En heel waarskynlik sy laaste Naam ook. Want genade is wat God doen om alles wat Hy gemaak het le wend en in liefde te behou – vir altyd. Genade is God se amptelike posbeskrywing. Genade is nie iets wat God gee nie. Genade is wat God ís.”

Kom ons herhaal: Genade is Wie en wat God is. Dis sy hele wese. As ons Here, die Een saam met Wie ons elke dag leef, die Een wat ons navolg, genade ís, kan ons nie anders as om ook dit te wees nie. Dan wil ons mos ook genade uitdeel. Wil ons sy groot geskenk aan die wêreld uitdeel.

As God genade is, wil jy dit mos ook wees. En as jy dit wil wees, sál jy krag en genade ontvang om ’n suiwer kanaal daarvan te wees.

Here, maak my ’n genade-kanaal.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.