Gedagte vir die dag: Detail

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.” (Psalm 139:13)

“Ons kyk sommer net die mense,” sê iemand nou die dag. Die koffiewinkel se tafels en stoele is hoeka só geskuif dat koffiedrinkers heerlik agteroor kan sit en elke persoon wat verbystap van kop tot tone kan bekyk. Sommige van ons sal ure lank so kan sit en “mense kyk”.

Ons bly mekaar fassineer.

Breedweg lyk die meeste van ons mos maar dieselfde. Arms, bene, ’n lyf. ’n Kop op die lyf.

Wanneer jy egter ’n ander mens van nader beskou, merk jy die groot verskille. En dis dalk hiér waar die verwondering lê. Ek betrap my dikwels dat ek in ’n gesprek betrokke is, en eensklaps na elkeen se neus begin kyk, een ná die ander. En dan verbyster dit my dat daar so baie verskillende soorte en groottes en vorms is.

Soms kyk ek ook na mense se hande, na sommiges se welgevormde, slanke vingers. Dié met die groot, bonkige vasvathande. Party mense het darem baie are op hul hande! Ander s’n is glad en mooi, en die vingers byna deurskynend.

Ons weet dat elkeen van ons se vingerafdrukke anders as ’n ander een s’n lyk. Daar is 7,6 biljoen mense op aarde en elkeen het ’n ander patroontjie op die vingers …

En dan is daar die oë … Ek kan my verkýk aan oë!

Nou het ek nog nie eens gebieg oor my voorliefde om na stemme op te let nie. Hoe lekker diep sommiges s’n is, hoe hard mense praat. En hoe skril dit soms word as hulle ontsteld is.

Biljoene mense, en elkeen se stem klink anders as die volgende een s’n. Al is dit net ’n fraksie van ’n frekwensie, maar dis ánders.

Dis al hierdie dinge wat my terug lei na Psalm 139:13 waar die digter sê: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”

Verbysterend! Hoe het Hy nie elke detail bedink voordat Hy dit stekie vir stekie geweef het nie …

Hoe wonderlik is dié God wat jou lyf ken soos net die Skepper daarvan dit kan ken! Boonop het Hy ook jou hart, jou karakter en jou manier van dink ontwerp en gebou.

Hy is ’n wonderlike God, dié Een wat elke sproet op jou gesig ken, en elke nuanse van jou persoonlikheid, en elke skakering in jou siel. Wonderbaar is Hy!

Here, dankie dat U my ken in elke detail van my menswees.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agter die skerms..... ·

Dankie my God dat U my ken, en dat ek elke dag met U kan praat. Amen

Sophia ·

Dankie my Vader dat ek EK is, dat U my gemaak het, dat U selfs my naam ken, dat U my hart ken, dat U my vreugde en ook my verdriet ken! En dat U oë my volg waar ek ookal gaan, en dat NIKS van my nie bekend is aan U nie. Halleluja, ek EER net vir U!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.