Gedagte vir die dag: Deur dik en dun

man_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” (Job 1:9-11)

Job verloor alles wat vir hom kosbaar is: sy familie, besigheid, welvaart, gesondheid en aansien in die gemeenskap.

Die vraag is of Job aan die Here getrou sal bly wanneer dinge vir hom so ingrypend begin skeefloop. Job bly, ten spyte van dit alles, volhardend op die Here vertrou. Hy verwyt en twyfel nie aan die Here nie.

Selfs in die traumatiese situasie waarin hy verkeer, is Job steeds oor ander besorgd wanneer hy vir sy vriende bid ten spy te van hulle verkeerde raad aan hom. Deur sy optrede teenoor hierdie vriende bewys Job vergifnis en vryspraak. Die Here reageer hierop deur Job te herstel.

Sy menswaardigheid word herstel wanneer sy familie en vriende as’t ware rondom hom laer trek, saam met hom aan huis verkeer en hom met hulle medelye ondersteun en troos.

Ook sy materiële situasie word herstel. En die Here verseker dat die laaste deel van Job se lewe selfs nog voorspoediger is as die eerste, wanneer Hy hom seën met geweldige rykdom. Die Here het Job se trou beloon deur hom dubbeld te herstel na al die terugslae en trauma wat hy moes verwerk.

Om die Here te dien is nie ’n waarborg dat die lewe maklik gaan wees nie. Net soos met Job kan daar ook slegte en moeilike dinge op my lewenspad kom. Al hierdie uitdagings bied egter aan my ’n goeie geleentheid vir leer en groei.

Here, ek vertrou U wanneer dit goed gaan en wanneer dit sleg gaan. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lena Jonk ·

Ons God staan by ons in ALLE omstandighede, voor- of teespoed, bly net vertrou op Hom, selfs deur hartseer het Hy n manier om ons te vertroos. Ek bid vir Genade dat ek sal volhou in my geloof tot Hy my kom haal.

Magdalena ·

Amen?
Antwoord op my vrae.
God van Job is ook my God.
Soms moeilik, maar as ek terug Kyk op my lewenspad is en was God altyd daar
Alle eer aan God.
Dankie Maroela Media vir die deel van die Woord van God

SNEL ·

Ja, ons kan baie leer van die godsmanne hoe om vas te staan in moeilike tye. Paulus was deur net so baie (2 Kor 11 van vers 16). Hy het deur daai moeilike tyd ander gelowiges bemoedig. Dit gee n mens moed vir ons eie omstandighede en om ook onvoorwaardelik te glo en vas te hou aan God as ons aan manne soos hy en Job dink. Die wedloop te hardloop met volharding tot die einde. Prys die Here dat Hy ons altyd dra en by ons is deur elke situasie, ons is nooit alleen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.