Gedagte vir die dag: Deur God gedra

Foto: flowercampings.com

Foto: flowercampings.com

Luister, julle vir wie ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. (Jes 46:3-4)

Lees Jesaja 46:3-13

Ons kry ’n pragtige teenstelling in Jesaja 46:1-4: Terwyl sy verbondsvolk Hom verlaat het en nuttelose afgode in hul hande gedra het, was God steeds besig om húl le te dra. Daar word verskeie kere in die Bybel beloof dat God sy kinders sal dra; dat Hy vir hulle sal onderneem van hulle geboorte af tot hulle ouderdom toe; dat Hy hulle selfs deur swaarkrytye sal dra wanneer hulle kragte min word.

Miskien sal dit goed wees om hier aan die begin van die nuwe jaar ’n persoonlike bestekopname te neem: Dra jy jou nog – soos Israel van ouds – steeds dood aan al die nuttelose afgode wat jy weier om prys te gee, of laat jy God toe om jóú te dra? Iemand wat gedra word, hoef self geen poging aan te wend nie; hy hoef net stil te wees en die ander persoon toe te laat om alles te doen.

Vir mense wat gewillig is om rustig te raak en God toe te laat om hulle te dra, geld Jesaja se pragtige belofte vandag nog: Dié God wat jou gemaak het, onderneem om jou in die nuwe jaar elke dag te dra, om jou te red en jou vas te hou totdat jy eendag oud is, om jou van genoegsame krag vir elke dag te voorsien.

Hemelse Vader, vergewe my dat ek soms uitgeput is omdat ek so baie onnodige dinge met my saamdra. Here, ek wil nou toelaat dat Ú my optel en dra. Hou my asseblief styf vas en red my van gevare. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lorraine ·

Hierdie is ‘n baie spesiale boodskap. So moeilik om te doen…..maar so kragtig die uitkoms in ons lewens. Ek laat die Here nie genoeg toe om my te dra nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.