Gedagte vir die dag: Die aarde kreun

aardeRomeine 8:22-23 – Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 

As die uiterste weersomstandighede van die afgelope jaar jou nie laat nadink oor die impak van die mens op die natuur nie, dink weer. Daar word baie gepraat en geredeneer oor die rol wat die mens kan speel in die bewaring van die aarde. Maar dit wil amper lyk asof Christene huiwerig is om betrokke te raak by hierdie “issues”. Talle Christene beskou die ekologiese krisis as net nog ʼn teken van die eindtyd en kyk amper met genoegdoening na die vernietiging van die skepping sodat hulle kan sê dit is God se straf vir ons sondes. Ander vrees dat enige betrokkenheid by omgewingsbewaringsgroepe die kerk se aandag sal aflei van sy primêre taak om siele vir die koninkryk te wen.

Hoe moet ons Christene dan na die bewaring van die aarde kyk? Ons kan nie anders as om diep bewoë te raak wanneer ons die mens ontredderd voor die geweld van die wind, die reën en die see sien staan nie. Die hulpkrete wat uit die Fillipyne opstyg, die trane van mense in Britanje wat die ergste vloede in menseheugenis moes aanskou, en die riviere in VSA wat letterlik in gletsers verander het die afgelope winter, laat ons steier voor die geweld en mag van die natuur.

Of ons enigiets aan die saak kan doen is ʼn ope vraag. Al wat ek weet is dat die behoefte aan redding, versorging en uitreiking op ʼn groot skaal toenemend deel van ons bediening as God se mense gaan wees. Omgord dus jou lendene om jou hande uit te steek wanneer ʼn ramp jou gemeenskap oorval.

Gebed: Here, ons is besorg oor die toenemende verval van die aarde en die rampe wat ons in die gesig staar. Gee vir ons ʼn visie van hoe ons die aarde moet bewaar en gebruik. Amen

Bron:Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.