Gedagte vir die dag: Die belangrikste geestelike gawe

Liefde_seesand_Stiltetyd.jpgAl het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. (1 Korintiërs 13:2)

Is jy dalk ’n bietjie jaloers op ’n vriendin se wonderlike talente en gawes? Miskien voel jy die verskil wat jy in die kerk of wêreld probeer maak, kom nie naby die verskil wat sy maak nie en dit laat jou minderwaardig en selfs effe afgunstig voel. Raak ontslae van daardie gevoel van minderwaardigheid – onthou, die verskillende gawes wat ons van God ontvang het moet juis die kerk opbou en eenheid onder gelowiges bevorder. Ons hoef nie op mekaar se gawes jaloers te wees nie, want elkeen het immers ’n unieke een ontvang om ’n spesifieke verskil in die wêreld te maak.

Meer nog, het jy geweet dat die een gawe wat die wêreld die meeste na hunker en soek, die een ding wat die mensdom die meeste nodig het, liefde is? Daar is niks belangriker, geen ander gawe of talent, wat ons as Christene die kerklose wêreld kan bied as God se liefde nie. Volgens die Bybel is die liefde meer betekenisvol as al die geestelike gawes in die kerk. Selfs nie ’n sterk geloof of die vermoë om wonders te doen is so belangrik soos die liefde nie. Dit is wel so dat mense verskillende gawes ontvang, maar almal kan en moet die liefde hê. Daarom moet ons ons daaraan toewy om vir ander lief te wees – ons moet moeite doen om te probeer uitblink daarin om ons medemens liefde te wys. Dit moet boaan ons geestelike prioriteitslys staan.

Geen ander gawe wat ’n mens het, kan in elk geval waarlik vrugte afwerp as dit nie met liefde gepaardgaan nie. Al dink jy jy het baie in die lewe bereik, maar die liefde is nie hoofsaak in jou lewe nie, is jy niks volgens die Woord van God.

As kinders van die God van liefde moet ek en jy dit vir die wêreld tasbaar maak. Liefde moet ons as Christene se handelsmerk wees. So dikwels mors ons egter dag na dag ons tyd op sake wat verganklik is, maar die liefde het ewigheidswaarde en vergaan nooit nie. Die liefde is wonderlik en die genesende salf wat die stukkende wêreld bitter nodig het.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maria ·

Dit waar van LIEFDE. As jy nie eerste God lief het nie het jy ware liefde nie. Eerste1-4 Gebooie is gelink met eerste gebod :Here lief he met jou hele hart,verstand,krag,gedates en Lewe. Dan 5-10 gebooie gelink met 2de gebod moet jou naaste lief he soos jouself,. Die goeie nuus julle 10gebooie(10liefde woorde) oorwin deur ware liefde kan julle. 10Gebooie nie n straf nie daar om ons te help om te keer vir geeslik dood en ewige dood. Here ons so lief dat hy ONS vir help deur sy 10gebooie Dankie dat ek U Wet lief sal he

OWO ·

Liefde is nie in die eerste plek ‘n Gawe van die Gees nie,maar nommer een Vrug van die Gees.Die Gees gee die gawes soos Hy wil,maw hy deel nie Liefde uit soos Hy wil nie.Die Vrug van die Gees waarvan Liefde nommer een is,Paulus noem 9 in Galasiers 5:22 is die karaktertrekke van Jesus Christus wat ons deel van ons lewe moet maak en vir almal beskikbaar is.Almal besit nie al die gawes van die Gees nie.Die Gawes en die Vrug van die Gees moet wel in harmonie met mekaar wees.

OWO ·

Liefde is nie ‘n Gawe van die Gees nie,maar wel nommer een Vrug van die Gees.Die Gees gee gawes soos Hy wil,maw Hy deel nie Liefde uit soos hy wil nie.Die Vrug van die Gees is die Karakter eienskappe van Jesus Christus,waarvan Paulus 9 noem in Galasiers 5:22,wat ons deel moet maak van ons lewe en vir almal beskikbaar is.Die Gawes van die Gees en die Vrug van die Gees moet wel in harmonie met mekaar wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.