Gedagte vir die dag: Die bemoediger

holding-handsHand 9:27- Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring.

“As ‘n baba pas gebore is, word hy nie in ‘n yskas gesit nie. Hy word warm toegemaak en liefdevol versorg.” Dieselfde beginsel geld ook vir nuwe bekeerlinge. Dit is baie sleg as iemand na die Here gelei word en dan terstond verlaat word om self te sien kom klaar. ‘n Nuwe gelowige het versorging nodig. Die Here Jesus het ons beveel om dissipels – leerlinge – te maak, nie net bekeerlinge nie. Dit kos tyd en persoonlike aandag.

Toe Saulus in Jerusalem aankom, was die Christene nog steeds vir hom bang. Hulle wou hom nie in hulle geledere toelaat nie, tot Barnabas hom by hulle ingetrek het. Barnabas was die eerste gelowige wat sy eiendom verkoop het en die geld uitgedeel het. Sy naam beteken “iemand wat mense moed inpraat” (Hand 4:36). Dit was Barnabas wat hom veertien jaar later ook in Antiogië in die leierskap van die gemeente ingetrek het (Hand 11:25- 26). Barnabas en Saulus was die eerste sendelinge wat deur’n gemeente uitgestuur is (Hand 13:1-3). Toe Paulus later nie kans gesien het om Markus weer saam te neem nie, omdat hy ‘n vorige keer uitgesak het, was dit Barnabas wat vir Markus omgegee het, en met hom saamgeneem het (Hand 15:39). Hy was ʼn ware dissipelmaker.

Ons het almal ‘n Barnabas nodig om ons op die pad van die Here te bemoedig. Is jy gewillig om dit vir iemand anders te wees? Hou jou oë oop vir nuwe gelowiges, en stel persoonlik in hulle belang en help hulle groei deur tyd aan hulle te gee.

Gebed: “Dankie, Here, vir elkeen wat ons op die pad bemoedig. Help ons om ander ook so te bemoedig.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.