Gedagte vir die dag: Die beste lê voor

voetpad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees. (Openbaring 21:7)

Die beste lê nog voor. Nee, hierdie is nie net nog ’n holruggeryde cliché nie. God is regtig op pad vorentoe met al sy kinders. Hy is onderweg met ons almal na sy nuwe wêreld toe. Sy plan is om alles hier nuut te maak soos wat Openbaring 21 vertel. God kan nie wag dat dit aanbreek nie. Sy nuwe hemel en aarde wink. Dit beteken nie ons moet probeer ontsnap uit ons huidige wêreld nie. Ons nuwejaarsplanne is nie om by ’n geestelike lughawe te skuil totdat die volgende vlug hemel toe opdaag nie. God het ons geroep om voluit vir Hom in hierdie wêreld te leef. Ons doen dit as burgers van sy koninkryk. Omdat ons weet die Here sal ons nooit in die steek laat nie, kan ons die nuwe jaar gelowig binnestap. Ons hande is in die hand van Hom wat tyd en ewigheid stewig vashou.

So van ’n nuwe begin gepraat – ek lees van ’n beroemde sjef wat gevra is om sy gunsteling resep te verskaf vir ’n boek met die tema: “As ek my heel laaste resep op aarde kon voorberei, wat sou dit wees?” Toe laat weet die sjef dat hy nie kan deelneem nie, want hy is nie goed met “endings” of “afsluitings” nie. Sy lewe gaan eerder oor “beginnings”. Wel, ons almal staan nou voor ’n nuwe begin. Ons moet die nuwe jaar reg afskop. Die beste manier om dit te doen, is om Christus na te volg. Enige jaar skop goed af as ons dit in sy geselskap begin. Dan hoef ons nie ons koppe oor die einde te breek nie; dit sal in elk geval ook baie goed wees.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.