Gedagte vir die dag: Die betekenis van die opstanding

berge-wolke-stiltetyd-danfador.jpg

Foto: danfador/pixabay.com

As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. (1 Kor 15:17)

Lees 1 Korintiërs 15:17, 19

Jesus se opstanding bevestig alles wat Hy vir sy dissipels gesê het. Dit beklemtoon die feit dat Hy ons van sonde verlos het.

Ons wat in Hom glo, sal eendag net so uit die dood opstaan soos wat Hy gedoen het.

Volgens Die Heidelbergse Kategismus beteken Jesus se opstanding vir my die volgende: Dit vervul die belofte van Goeie Vrydag. Dit is juis die bedoeling van Jesus se kruisdood dat ons sal lewe. Ons kan nou maar ’n reg merkie agter ons naam plaas: Jesus het al ons sondeskuld klaar aan die kruis betaal, ons is nou regverdig. Deur Jesus se toedoen vergewe God jou sonde. As God na jou kyk, kyk Hy na jou deur die kruis van sy Seun.

Die opstanding het ook te doen met die manier hoe jy nou lewe. God se kinders behoort in die wêreld te lewe soos mense met opstandingskrag; mense wat reeds die vrede van Jesus in hulle lewe ervaar.

Die opstanding laat ons vorentoe kyk na die onbekende wat nog gaan kom: die dood wag vir ons elkeen. Maar vir Christene het Jesus die angel uit die dood gehaal. Aan die kruis oorwin Hy die dood, en sy opstanding kom sê vir jou dat jy eendag net soos Hy uit die dood sal opstaan in ’n nuwe lewe.

Here Jesus, baie dankie dat U nie net vir my gesterf het nie, maar dat U ook uit die dood opgestaan het sodat ek eendag saam met U sal kan lewe. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.