Gedagte vir die dag: Die Brood van die Lewe

 koring_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem. (Johannes 6:27)

Ek is in Sentraal-Afrika gebore en is al vele male terug soontoe om die evangelie te gaan verkondig. Heel eerste glo ek dat ons mense van Jesus Christus moet vertel. Daarna kan ons ons bemoei met dinge soos die voorsiening van kos en klere en in ander behoeftes.

In die jare toe ons met die Seed Sower-vragmotor gereis het, was ek altyd verstom dat mense vir Bybels vra bo enigiets anders. Ons het al in talle primitiewe gebiede ingegaan. Wanneer ons hulle vra of hulle kos, klere of ’n Bybel wou hê, het hulle amper sonder uitsondering gevra vir Bybels.

Op een sendingreis het ons amper veertig duisend Nuwe Testamente in Botswana ingeneem en met niks teruggekeer nie. My broerskind, Fraser, is amper vertrap toe die mense hom letterlik omgestamp het om by die Bybels uit te kom. Ons het al probeer om beraders ver uitmekaar te laat staan, maar niks werk nie. Daar was al kere dat ek bokse Bybels gevat het en dit tussen die skare ingegooi het in ’n poging om die Bybels onder die mense te versprei sonder dat die kinders vertrap word.

Daar is geen plaasvervanger vir Jesus Christus of vir die Woord van God nie. Jy kan mense kos gee en hulle sal môre weer honger wees. Maar as hulle die Woord van God ontvang, ontvang hulle hoop, rigting, en vervulling wat ’n leeftyd sal hou. Jesus maak die wêreld se verskil, want Hy is die hoop vir dié wat nie hoop het nie; Hy is die Brood van die Lewe. Ons het ’n Godgegewe verpligting om mense van die roemryke Koning te vertel voordat ons enigiets anders doen.

Liewe Here Jesus, dis ’n geweldige verantwoordelikheid om te weet dat ek U verteenwoordig. Benadruk asseblief vir my die belangrikheid daarvan dat mense eers die evangelie moet hoor voordat ek in hul fisiese behoeftes voorsien. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Wow! nou wonder ek net wat van mense wat reeds bybels het wat die voorreg het……lees nie meer nie Ek erken dit waar…..Dankie bybel help my om meer van u brood van lewe die bybels begin lees en bestudeer sodat u beter kan leer ken en verstaan Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.