Gedagte vir die dag: Die Bybel is nie ’n slaappil nie

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek. (2 Timoteus 3:16)

Die Amerikaanse skrywer Malcolm Gladwell het die idee populêr gemaak dat jy eers 10 000 uur aan ’n spesifieke taak of aktiwiteit moet spandeer voordat jy as ’n kundige op enige gebied beskou kan word. Tog wys navorsers daarop dat dit nie net oor 10 000 uur as sodanig gaan nie. Dit gaan oor die regte inoefening wat met insig en nuwe leerervarings gepaardgaan.

Dieselfde beginsel geld vir die Bybel. Baie mense lees die Bybel vir jare lank sonder dat hulle dit ooit heeltemal verstaan. Hoe lees jy dan die Bybel reg? Wel, dit begin met die wete dat Bybellees nie ’n doel op sigself is nie. Jy lees nie die Bybel bloot omdat dit die regte ding is om te doen voordat jy gaan slaap nie. Die Bybel is nie ’n slaappil nie; dit is ’n lewensboek. Dit is die lig op jou pad. Lees die Bybel ook boek vir boek deur, soos wat dit oorspronklik aan ons gegee is. God praat heel eerste in Bybelboeke, nie in los verse nie. Bybelverse, soos wat ons dit vandag ken, is eers in die jaar 1555 deur Robert Estienne ingevoeg. Raak Bybelboeke se boodskap baas. Oordink dit dag en nag en gaan leef dit uit.

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here vir U Woord…dat ek n Bybel mag besit dat ek kan lees dat ek oe het om te sien…bowenal dat U met my praat my begelei waar ek sukkel om te verstaan….dat ek God se hart in my Bybel ontdek het….wat n wonderlike voorreg