Gedagte vir die dag: Die dag behoort aan die Here

 bome_bloeisels_lente_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe ‘dag’ genoem, en die donker het Hy ‘nag’ genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. (Genesis 1:3–5)

Dis lentedag! Daar is die fynste lentebloeisels aan die boomtakke en nuwe saailinge staan kordaat in die dounat beddings. Die kinders moet blomme skool toe vat en pluk takkies wit van die pruimboom af. Hulle mag vandag huisklere dra, môre is dit somersdrag. Teen tienuur se koers be­gin die bye in die vrugtebome werk en ontdek ek blink slakspore om ’n af­gekoude stinkafrikaner. Voëls tjirp in die bome en vlieg weg met dun repies palmblaar in hul bekkies. Dis nesboutyd en daar is opwinding in die lug. Be­loftes van nuwe lewe hang saam met die blomgeure swaar in die lug. Alles hier wil groei en vermeerder.

Ek staan verwonderd by die ontwaking, en vergelyk die hoeveelheid bloeisels met verlede jaar s’n. Die vooruitsigte vir vrugte lyk goed, tensy ons weer koue of hael kry.

Net die Here weet – Hy wat met sy eerste skeppingsdaad al voorsien het dat ek vandag hier in die tuin sal staan. Het Hy ook uitgesien na die eindproduk van sy skepping, toe Hy die eerste dag uitgeroep het? ‘Laat daar lig wees!’

Het Hy toe al die pienk van die perskebloeisel gekies, die wit van die pruimboom en die vorm en smaak van die vrugte? Ek is seker Hy het. Daar­om voel ek vandag veilig en sien ek uit na môre en oormôre. Hy beplan die hele toekoms. As koue en hael weer kom, dan bly daar nog altyd iets oor om voor dankbaar te wees.

Skeppergod, Heer van Hemel en aarde, ek wil U loof en prys oor u skeppingsdade, oor hoe U alles beplan en in stand hou – ook my lewe – tot die laaste dag.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

roettie ·

as ek kyk na die lelie daar in die veld,dan besef ek hoe groot GOD SE GENADE OOR DIE MENS is…AMEN

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.