Gedagte vir die dag: Die dag van klein dingetjies

namakwaland-Pragtige-veldblomme.jpg

Foto: Marianne Styan

Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. (Sagaria 4:10)

Ons word maklik beïndruk deur groot prestasies, rekords wat gebreek word, torings wat gebou word, tegnologie wat die wêreld verbyster, uitvindsels wat verstom en idees wat die koppe laat draai. Ons vestig ons hoop op die sterre; die hemel is nie hoog genoeg nie.

Ons streef daarna om vinniger, mooier, slimmer, sterker en ouer te word sonder om aan die aftakeling van die ouderdom toe te gee. Bejaardes hardloop die marathon, spring uit vliegtuie, klim berge en skryf in vir doktorsgrade. Kinders word van kleins af gedryf om bo hul aangebore gebreke en belemmerings uit te styg. Gemiddeld is nie meer goed genoeg nie.

Net God is almagtig. Hy het sy almag telkens getoon en Hy doen dit steeds. Hy stuur vuur, water, wind, orkane, aardbewings en tsunami’s. Hy genees waar geen genesing moontlik lyk nie en help mense om ander uit vol riviere en brandende huise te red. Hy stuur Noag se duif met ’n vars geplukte olyftakkie in sy bek terug ark toe en hang die reënboog in die lug op.

Sulke groot gebeurtenisse begin dikwels by klein dingetjies. As Rebekka nie soos gewoonlik gaan water haal het nie, het sy nie Abraham se slaaf ontmoet nie en is die stam van Israel nie deur Isak voortgeplant nie. As Esau nie so lus was vir lensiesop nie, sou Jakob nooit die aardsvader geword het nie. Die aarde se geskiedenis getuig van groot bewegings wat klein begin het, soos magtige nasies wat deur ’n handvol setlaars geplant is en die Christendom wat by een Man en twaalf dissipels begin het, en nou na raming 2,18 biljoen volgelinge oor die hele wêreld het.

Almagtige Here, ek bid vandag vir die uitbreiding van die evangelie, vir elke sendeling en evangelis, vir gemeentes, Bybelskole, radiostasies en selfoonboodskappe, preke en besprekings op die internet, vir elke Christen op aarde wat in sy omgewing ’n verskil maak. Seën elke poging, hoe klein ook al.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theuns ·

Dankie vir die gedagte vir die dag. Here help my dat daar vandag nie een word uit my mond sal kom wat onwaar is of nie deur U geinspireer is nie! Gee ons wysheid in alles wat ons doen. Seen ons en kinders, ons klein kinders en ons land en al sy mense! Ons prys en loof U Here God. Amen

neelsie ·

Mag God -Drie-Enig ons genadig wees.
Bekeer jul en bid vir vervulling met die Heilige Gees.
Hy sal jou die vrug laat dra wat by bekering pas.
Moenie n boom wees met net blare nie,Jesus soek ook vrugte deur ons lewe.

chris ·

Here , baie dankie vir die wete dat U genees waar genesing nie moontlik lyk nie, ons bid Here dat u my suster wat kanker het en waar sy toetse vandag moet ondergaan dat U hand oor haar en haar familie sal wees . Amen

Theuns ·

Here God verhoor die stroom gebede wat na U toe opgaan en GENEES Chris se sister! Maak die onmoontlike MOONTLIK! Ons prys U Naam. Amen

Raadop ·

Here, ek bid vir vrede in my gesin en familie. Gee dat U elkeen se hart weer sag sal maak, neem weg die eie-ek en selfsugtige behoeftes wat ons weerhou om mekaar se seer raak te sien. Here, skenk ons vrede, liefde en aanvaarding vir mekaar. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.