Gedagte vir die dag: Paulus: Die dertiende apostel en die elfde gebod

mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Ek staan onder ’n verpligting om die evangelie te verkondig. Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dis die krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom 1:14-17).

Saul, Saul, waarom vervolg jy My? (Handelinge 9:4)

Dis hoe ’n Nederlandse leraar oor Paulus geskryf het: die dertiende apostel en dieselfde gebod.

By die twaalf sou ’n dertiende apostel gevoeg word: Saulus van Tarsus, die vervolger van die kerk. Die gelowiges in Damaskus kon dit skaars glo. Kan jy jou voorstel hoe die gemeente in Jerusalem se oë gerek het. Saulus! Die man wat soos ’n besetene die volgelinge van Jesus met die dood gedreig het? Die fanatikus wat Damaskus toe is om ons broers en susters te arresteer? Tog was dit so. Die Here het sy hand op die mees onwaarskynlike van onwaarskynlikes geplaas. Die bloubloed Fariseër het God se uitverkore instrument geword.

Dis hoe die Here werk. Wie sou kon glo dat Konstantyn die Grote, die Romeinse keiser, in die nag ’n brandende kruis in die lug sou sien? Of dat die briljante jong Augustinus wat ’n wilde lewe gelei het, op ’n bankie in Milaan die stem van die Here sou hoor? Of dat die Here met die ontnugterde priester Martin Luther ’n plan gehad het?

Die elfde gebod? By al tien gebooie het Paulus ’n elfde gevoeg: Gaan verkondig! Van die dertiende apostel het Jesus gesê: “Ek het hom gekies as my werktuig onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.” Paulus het sy roeping omhels: “Ek staan onder ’n verpligting om die evangelie te verkondig. Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dis die krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom 1:14-17).

Wat van Paulus gegeld het, geld van ons: Die elfde gebod gee sin aan ons lewe. Die hoofdoel van ons bestaan is om die gebod te gehoorsaam.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.