Ons prys God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy genade aan ons gegee. (Efesiërs 1:6)
Sekere dinge is natuurlike moeg-makers: soos om uitasem te wees na ’n strawwe oefensessie, ’n produktiewe dag of lang ure by die werk, of wanneer jy vinnig ’n klomp dinge moet doen. Dan is moegword normaal en kan ons weer met die nodige rus ons batterye herlaai vir ’n volgende oefening of nog ’n dag by die werk.
Dan is daar ander onnodige moegmakers: soos wanneer jy gedurig probeer om aan bepaalde verwagtinge te voldoen of dinge doen om deur ander … deur God aanvaar te word. Wanneer jy jouself voor ander en God probeer regverdig, probeer om hulle tevrede te stel. Wanneer jy ander se verantwoordelikhede op jou skouers neem. Dan word jy régtig moeg. Sielsmoeg. Lewensmoeg. En dis so onnodig! Veral as dit oor God se sogenaamde goedkeuring gaan, want die waarheid is dat:
- God nie van jou verwag om sekere reëls na te kom voordat Hy jou aanvaar nie;
- Hy nie sekere prestasies wil sien voordat Hy jou liefhet nie;
- Hy nie jou waarde meet aan wat jy doen nie.
Christus het vir jou gesterf, lank voor jy enige iets kon doen. Aanvaar vandag die wete dat jy maar net jý kan wéés omdat jou God jou liefhet: net soos jy is.
Here, help my om myself nie onnodig moeg te maak met doen so-en-so-dinge nie, maar om in U te rus.
“Here, laat my optree met die vrug van die Heilige Gees in my hart.(Gal 5;22).