Gedagte vir die dag: Die dood is oorwin

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: Christianheadlines.com

Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.” (Lukas 24:5-6)

Shakespeare noem die dood “that undiscovered country”. Hy gaan verder en sê “from which no traveler returns”. Shakespare is egter verkeerd want Jesus het uit die dood opgestaan. Die engele by Jesus se graf vra aan die groepie vroue wat gekom het om Jesus se liggaam te balsem: “Waarom soek julle die lewendes by die dooies? Hy is nie by die dooies te vinde nie, Hy lewe.”

Jesus het die dood oorwin en so haal Hy die angel uit die dood uit – die dood is nie nou meer finaal nie. Ja, ons hoef nie die dood te vrees nie, want daarna begin die lewe. As gelowiges kan ons uitsien na ’n ewige lewe sonder seer of trane in die tasbare teenwoordigheid van die lewende God.

Iemand het voor sy sterfte gesê: “Ek verlaat slegs die land van die sterwendes om oor te stap na die land van die lewendes.” Jesus se opstanding uit die dood maak van ons aardse dood ’n oorgang, ’n poort na die ewige lewe.

Hierdie wete maak ons nie noodwendig minder seer wanneer ons iemand na aan ons aan die dood moet afstaan nie, maar omdat ons hierdie hemelse vooruitsig het, ly en treur Christene anders as die wêreld. Ons ly met ’n verwagting – soos Paulus dit stel, ons sug met ’n vooruitsig. Ons weet wanneer ons aardse woning, wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is nie ’n woning wat deur mense gemaak is nie, maar deur God en dit bly ewig staan. Hierdie wete bied groot troos wanneer ons by ’n geliefde se oop graf staan of wanneer ons self op ons sterfbed lê.

Dankie, hemelse Vader, dat U voorsien het dat Jesus deur sy kruisdood vir ons skuld betaal het sodat ons vir ewig kan lewe.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Dankie Here van genade dat U dit vir ons moontlik gemaak het deur U lewe as offer te gee aan n mensdom wat niks verdien nie. Amen

Dries ·

Ons kan nie anders as om met borrelende blydskap ons hele lewe aan Jesus oor te gee nie, om tee dink Hy het alles gedoen sodat ons ook kan lewe , vir ewig saam met Hom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.