Die doodsheid van geestelike gelukbringers

stil5

Foto: pixabay.com

“Waarom het die Here ons voor die Filistyne laat vlug?”

1 Samuel 4:3

Toe ek nog voltyds dominee was, was van die groot lekkertes in die bediening, die tye wat ek en Melanie saam met katkisante gaan stap het. Deur die jare het ons saam met verskillende groepe jongmense baie staproetes oorwin. Een van die mooiste stapplekke in die land bly vir my steeds Golden Gate in die Oos-Vrystaat.

Behalwe vir die feit dat baie geloofslesse te leer is op so ʼn staptog, is daar min plekke soos ʼn staptog waar mense nie net mekaar baie goed leer ken nie, maar op ʼn geestelike vlak ook op nuwe maniere God se teenwoordigheid beleef.

Op bergtoppe kan stappers:

  • stil word,
  • nuwe horisonne verken,
  • hulle verwonder aan die grootheid van God,
  • hulle verwonder aan die wonder van sy skepping,
  • hulle verwonder aan die ewigheid van die Een wat die berge met Sy hande gevorm het.

Om nie net met die kop te dink nie, maar ook met die hart te voel, is een van die grootste gawes wat God deur Sy Gees aan mense geskenk het. Geestelike belewenis is daardie heilige Geesvervulde oomblikke waar mense se siel geroer word – of dit nou is met die sing van ʼn lied, die aansteek van ʼn kers, die stil word by ʼn waterstroom. Die mens het ʼn diep geestelike behoefte om nie net oor God se werke na te dink nie, maar om God te ervaar.

Leopold Scholtz skryf so ʼn paar jaar terug dat die hele sage rondom Pous Johannes Paulus II se dood en die verkiesing van ʼn nuwe pous, dui op ʼn diep geestelike honger in ons wêreld: “Daar is by baie mense ʼn geestelike honger na meer, na iets diepers as wat die oppervlakkige materialisme van die teenwoordige wêreld hulle kan bied. Daar moet iets meer wees as viertrekvoertuie, groot winkelsentrums, sierade, uitspattige etes … en shop till you drop.”

Die bekende skrywer, Phillip Yancey, sluit hierby aan wanneer hy in sy boek, Reaching for the invisible God, skryf een van die grootste probleme van ons moderne tyd is dat mense na God dors, soos die wildsbok in die woestyn smag na water, maar dat ons nie meer weet hoe om Hom te bereik nie.

Dit is dan wanneer Christene, soos Israel, na geestelike gelukbringers soek om hul dieperliggende dors na ʼn Godservaring te vervul.

Reeds van 1 Samuel 1 af lees ons Israel het nog getrou die tabernakel besoek. Hulle het nog gereeld die Here met offers vereer. Die probleem was hulle het God net nie meer in die realiteite van hul daaglikse lewens ervaar nie. Wat hulle wel ervaar het, is die realiteite van:

  • die korrupsie van Eli en sy seuns,
  • die geestelike doodsheid in die kerk,
  • die goddeloosheid in hul land.

Omdat God se woord so min gehoor is en hulle so min van God beleef het, het hulle onseker geraak oor God se sorg. Israel het nie meer geweet of hulle God regtig kan vertrou nie. Dit lees ons in die vraag van 1 Samuel 4:3: “Waarom het die Here ons voor die Filistyne laat vlug?”

Ons mense verstaan dit so goed. Is baie van ons ook nie onseker nie wanneer ons hoor van:

  • nog ʼn plaasmoord,
  • nog ʼn kind wat verniel is,
  • nog belastinggeld wat vermors is,
  • nog korrupsie,
  • nog moord en
  • wie weet watter goddelose dade nog.

Vertrou ons nog werklik op die beloftes van die lewende God om Suid-Afrika gesond te maak … Of maak ons soos Israel?

Israel besluit in 1 Samuel 4 die oplossing vir hul geestelike probleem en militêre bedreiging is: Gaan haal die ark “dat dit by ons kan wees en ons kan red uit die greep van ons vyande.” Die ark was immers ʼn simbool van God se teenwoordigheid, Sy liefde, sorg en seën.

  • Vir Israel het die verbondsark ʼn soort godsdienstige gelukbringer geword.
  • Hulle wil die ark gaan haal omdat hulle dink hulle kan daarmee ʼn greep op God kry.
  • So asof hulle God daarmee kan dwing om die oorwinning oor die Filistyne vir hulle te gee.

Watter wonderlike geestelike ervaring was dit vir Israel nie: “Toe die verbondsark in die laer kom, het die hele Israel so hard geskreeu dat die aarde weergalm het.” (vers 6). Selfs die Filistyne het gesê: “God het in die kamp gekom.”

Enige een sou, soos die Filistyne dink, verwag nou sal alles vir Israel reg uitwerk, want God se simbool was daar en die Godservaring was daar. Tog het alles vir Israel skeefgeloop met rampspoedige gevolge:

  • Waar die Filistyne die eerste keer 4 000 manskappe doodgemaak het, word 30 000 Israeliete die tweede keer doodgemaak.
  • Die ark van God word weggevoer na ʼn vreemde land.
  • Die hoëpriester Eli en sy twee seuns Hofni en Pinehas sterf.
  • Na die slagting by Afek was Israel vir twintig jaar die Filistyne se slawe.

Wat het skeefgeloop? Iewers langs die pad het die belewenis, die geestelike ervaring, die plek van God ingeneem.

  • Wanneer dit gebeur en dit gebeur so maklik, word godsdiens ʼn selfgesentreerde godsdiens waar ek God se plek in my lewe vul met geestelike simbole en ervarings en gelukbringers.
  • In ʼn selfgesentreerde godsdiens word godsdienstige handelinge en Bybelse simbole, soos die dankoffer, die nagmaal, die doop, lofprysing, gebed, of selfs die kruis, ʼn soort godsdienstige gelukbringer waaraan ek verbete vasklou ter wille van die een of ander soort geestelike ervaring daarvan.
  • Soos Israel in 1 Samuel 4 kan mens dink jy is op die pad, maar eintlik het jy lankal verdwaal.
  • Jy dink jy vertrou op die Here, maar inderwaarheid vertrou jy op ʼn ervaring van ʼn godsdienstige simbool.

Die Bybel noem dit ongeloof en die gevolg daarvan is dat ʼn doodsheid in my verhouding met die Here insluip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.