Die Drakensberg-vroue

Foto: Andrea Piacquadio/Pexels

Die tema “Die vrou in die gemeenskap – my mense en my rol” is ʼn betekenisvolle een, veral in die konteks van Solidariteit Helpende Hand Studietrust se Susanna Smit Studiefonds en die bydrae van Vroue in Beweging. Hierdie tema bring die gemeenskap nader aanmekaar en beklemtoon die waarde van die vrou in verskeie rolle in die samelewing.

Maar meer as dit het hierdie maand se tema my diep laat dink, wie is ek as vrou in my gemeenskap en wie is my mense en wat is my rol? Ek het onlangs die boek Vroue van die Bybel gelees, geskryf deur Wayne Barber, Eddie Rasnake en Richard Shepherd. Hier laat val hulle die kollig op vroue uit die Bybel en hulle rol in die skeppingsdoel van God. Eva is geskep om Adam te help om God se doel vir die mensdom te vervul. Adam kon dit nie alleen doen nie. In Sara se lewe, nes Abraham, sien ons gebrekkige en onvolmaakte soeke na God. Nogtans sien ons ʼn geloof wat groot genoeg was om “Die heldegalery” van die Ou Testament te haal. Mirjam sou uiteindelik een van die grootste vroue onder God se volk wees, maar sy moes leer om Hom te vertrou en te volg op Sy manier, nie op hare nie. Ragab is ʼn toonbeeld van genade: Hoewel sy nie deel van die kraal van Israel was nie, het sy nietemin die stem van die goeie Herder gehoor en geglo. In die donker tyd in Israel se geskiedenis was Debora ʼn ligbaken van vertroue in God se mag om te red en ʼn herinnering aan Sy verbondsliefde vir Sy volk. Rut wys vir ons dat God doodgewonde mense gebruik om Sy buitengewone planne uit te voer. Hanna het as ʼn onvrugbare vrou geleef in ʼn tyd wat die volk van Israel geestelike onvrugbaarheid beleef het, haar oplossing was Israel se oplossing: Gebrokenheid voor die Here. Ester se karakter is gevorm in die smeltkoers van teëspoed en tog het dit, nadat dit ten volle ontwikkel het, geskitter soos suiwer goud.

vroue-hande-bid-hannah-busing-unsplash-1.jpg

Foto: unsplash-hannah-busing.com

Dié vroue het hul mense en hul rolle in hul gemeenskap verstaan. Terwyl ek gelees het, wonder ek weer opnuut wie is my mense en wat is my rol; ek kom tot ʼn besef dat ek so baie mense het, dat ek so baie rolle het. Maar dat elkeen van my mense my in ʼn unieke rol nodig het.

As ons praat van my mense in die sin van my volk van wie ek deel uitmaak, is my mense en ons geskiedenis en ons rol in Suid-Afrika vir my bitter belangrik.

Daarom juis het die Vroue in Beweging gekies om Desember te fokus op die Susanna Smit Studiefonds van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust. Die fonds se doel is eenvoudig: Ons wil jong vroue help studeer, vroue wat dit nie andersins sou kon bekostig nie, sodat hulle hul rol in ons gemeenskap kan vervul.

Dit is vir ons ʼn groot voorreg om tydens hierdie maand ook dan aan te kondig dat ons in 2024 drie jong vroue gaan help en sonder die hulp en bydrae van die gemeenskap sou hierdie vroue nooit die geleentheid gehad het nie.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Esther Tuttle/Unsplash.)

Ons is trots op ons drie studente – een wat haar eerste jaar gaan aanpak by die Universiteit van Pretoria in genetika, nog een wat ook haar eerste jaar aanpak by die Universiteit Stellenbosch in maatskaplike werk en dan ʼn derdejaarstudent ook in maatskaplike werk by die Universiteit van Pretoria. Dit is ʼn riem onder die hart om hierdie studente te kan help, die land weet reeds dat maatskaplike gemeenskapsontwikkeling van kardinale belang is vir Helpende Hand en daarom juis is ons ook trots op die deel wat ons daarin kan speel om die twee maatskaplike werkers op te lei.

Hierdie vroue weet hulle betaal hul studiegeld terug sonder rente en met ʼn ooreenkoms by die trust, maar met die terugbetaling help hulle weer die volgende drie studente.

Susanna Smit Studiefonds

Dié fonds, vernoem na die inspirerende Susanna Catharina (Maritz) Smit. “Ons trek liewer kaalvoet oor die Drakensberge…” illustreer die moed en vasberadenheid wat vereis word om die uitdagings van die lewe aan te pak. Vir sommige jong vroue is die uitdaging om dit te kan bekostig om te gaan studeer.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Die geliefde Susanna dien as ’n simbool van volharding en leierskap vir vroue in Suid-Afrika. Haar bereidwilligheid om kaalvoet oor die Drakensberge te trek, is ’n metafoor vir die moeisame reis wat baie vroue in die samelewing onderneem. Sy self het die taak van opleiding op haar geneem tydens die Groot Trek. Sy het die waarde in opleiding gesien, daarin geglo en dit geleef, selfs in die moeilikste van tye.

Die Vroue in Beweging se keuse om ons rentevrye studiefonds na Susanna Smit te vernoem, is ’n eerbetoon aan haar nalatenskap en ’n erkenning van die veerkragtigheid wat in elke vrou skuil. Ons glo dat ons steeds hierdie kaliber vroue in Suid-Afrika het. Hierdie fonds wil ’n pad oor die berg moontlik maak vir diegene wat nie die finansiële middele het om die reis na ʼn tersiêre kwalifikasie aan te pak nie.

Ons wil ons jong vroue help om hulle eie Drakensberg te trotseer, om dapper te wees, om hulle skoene uit te trek en kniediep in hulle studies in te klim en dan om ʼn bydrae tot die gemeenskap te lewer.

Soos ons oor die vroue in die Bybel gelees het, kan ons sien dat die rol van die vrou in die gemeenskap uiteenlopend en dinamies is, en die Susanna Smit Studiefonds verteenwoordig ’n poging om hierdie rolle van die moderne vrou te versterk en te bevorder. Hierdie fonds is meer as net ’n belegging in opleiding, dit is ’n belegging in die toekoms van die gemeenskap en die vroue wat daarin woon.

Dit is ʼn mooi storie, dit is ʼn volhoubare verskil, maar ons wil meer doen, ons wil nog studente help. Ons het jou hulp nodig. As jy vandag hier lees en dit druk op jou hart om ʼn donateur te word van die Susanna Smit Studiefonds wat jong vroue bemagtig, stuur vir ons ʼn e-pos na [email protected] of as jy ʼn skenking wil maak en so wil help klik hier: https://helpendehand.co.za/susanna-smit-studiefonds/

Deur Rene Roux, adjunk‑ uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en voorsitter van Vroue in Beweging

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.