Gedagte vir die dag: Die een wat Jesus liefhet

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: Johannes 15:9-19

Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. (Johannes 15:9, 12-13)

Die feit dat God ons liefhet, is baie gerusstellend vir enige Christen. Sy liefde vir ons word op soveel plekke in die Bybel beskryf dat ons nooit daaraan kan twyfel nie. God se liefde is soos ʼn kombers om ons: “wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde,” skryf die psalm digter (Psalm 32:10). Johannes 15:9 uit Die Boodskap is dan ook: “Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe.” Jesus het ons so lief dat Hy in ons plek aan die kruis sterf, en groter liefde as dit bestaan daar nie, skryf Johannes tereg.

God se liefde kan nooit van sy genade geskei word nie. Sy onvoorwaardelike liefde vir ons is juis die hoofrede vir sy oorvloedige genade. En ons kan die groot genade van God se liefde net optimaal benut as ons gewillig is om mekaar op dieselfde manier lief te hê.

Johannes noem homself “die dissipel wat Jesus liefgehad het”. Dit is ’n wonderlike gedagte wat jy jou hele lewe met jou kan saam dra: Jý kan ook op daardie titel aanspraak maak. Net soos Johannes is jy die een wat Jesus liefhet. Jy is die een vir wie Hy sy hemelse heerlikheid prysgegee het sodat jy dit eendag met Hom kan deel. Sê vir Hom dankie deur sy liefdesgebod na te kom.

Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat ék die een is wat U liefhet. Dankie vir die genade dat ek my elke dag kan toewikkel in die kombers van liefde waarmee U my omvou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.