Gedagte vir die dag: Die eintlike hindernis

Stiltetyd-14.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

As die Seun julle bevry, sal julle regtig vry wees. (Johannes 8:36)

Een van die grootste vyande wat ons almal in ons lewe die hoof moet bied, is selfbeheptheid. So lank as wat ons op onsself gefokus is, sal ons nie eens die swaarkry van mense om ons raaksien nie. Ek glo dat slegs Jesus ons heeltemal kan vrymaak van selfsug en selfgesentreerdheid.

Vryheid van die self is die grootste vryheid wat ons ooit sal ken. Dit stel ons in staat om in vrede, met vreugde en liefde in ons harte te leef. Dit stel ons in staat om ons nie te kwel oor wat ander mense van ons dink of sê nie omdat ons meer besorgd is oor ander as oor onsself. Dit stel ons ook in staat om te gee eerder as om te neem en om dinge soos liefde, die gesin, eerbaarheid, integriteit en ware vriendskap op prys te stel – dinge wat geld nie kan koop nie.

’n Paar jaar gelede het ’n groot man van God my hier by die bediening op die plaas kom besoek. Ons het lank gesels.

Ek het baie nederig gevoel in hierdie man se teenwoordigheid omdat hy so maklik na ander uitreik. Hy het baie belanggestel in my, ons werk hier en ons kinderhuis. Hy was so vol van God se liefde en genade en heeltemal onbesorg oor homself. Hy is nou met ’n pragtige vrou getroud en hulle eersteling is in 2013 gebore. Hy lewe voluit, ten spyte van sy omstandighede, wat nie altyd vir hom maklik kan wees nie.

Hierdie jong man is ’n baie gewilde Christen-motiveringspreker en hy reis oor die wêreld heen. Hy leef vir ander. Ek is daarvan oortuig dat ’n onbaatsugtige lewe vreugde en vervulling teweegbring en dat selfsug leegheid tot gevolg het.

Jesus het gesê dat ons nie sy dissipels kan wees as ons nie daagliks ons eie ek prysgee, ons kruis opneem en Hom volg nie. Ons grootste hindernis in die lewe is selfbeheptheid. Kom ons sterf aan onsself en leef vir Jesus en vir ander.

Vader, ek het so ’n bewondering vir mense met gestremdhede wie se lewens desnieteenstaande vol vreugde en liefde is. Hulle stel so ’n wonderlike voorbeeld! Help my om onbaatsugtig te leef. Leer my asseblief om eerste aan ander te dink. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.