Gedagte vir die dag: Die engel van die Here

Wolke_pad_be…t_Dykema.JPG

Foto: Reint Dykema

Ek, die Here, stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. Gee ag op die engel en luister na hom, want Ek het aan hom my volmag gegee. (Eks 23:20-21)

Wanneer daar in die Ou Testament – veral in die eerste vyf boeke – van ’n engel gepraat word, dui dit op ’n baie spesiale boodskapper van die Here, ’n buitengewone hemel wese. Die engel is ’n besondere openbaring van God wat Hy in belang van sy volk se veiligheid stuur om hulle te lei en te beskerm. In Genesis 16 is dit die Engel van God wat tot Hagar se redding kom; in Genesis 22 is dit weer die Engel van God wat Abraham keer om sy kind se lewe te neem; in Eksodus 3 het die Engel van God in ’n brandende doringbos aan Moses ver skyn. En hier in ons teksvers, waar die Here sy verbond met sy volk verseël, beloof Hy om sy engel voor hulle uit te stuur om hulle te lei en te beskerm.

Sommige Bybelverklaarders sien in hierdie besondere openbaring van God die Persoon van óf Jesus óf die Heilige Gees. Dit is glad nie onmoontlik nie. Die feit is dat God op ’n buitengewone manier ingryp om in belang van sy volk of sekere indiwidue op te tree.

En vandag? Openbaar God Hom nog steeds deur middel van engele? ’n Mens hoor nogal van voorvalle waar jy nie anders kan as om dit te bevestig nie. Ek dink egter dat die Here in ons tyd veel meer gebruik maak van medegelowiges om op ’n besondere manier as sy boodskappers op te tree. Hoe God ook al besluit om op te tree, is altyd in belang van sy kinders.

Sien God se engele in mense wat Hy oor jou pad stuur in tyd van nood.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie Steyn ·

Baie inspirerend. Ek glo ook dat God mede gelowiges gebruik om ons probleme waaroor ons bid vir ons op te los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.