Gedagte vir die dag: Die enigste belangrike tyd

boer-diversityreporter_com1.jpg

Argieffoto Foto: diversityreporter.com

Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen. (Pred 9:10)

Lees Prediker 9:8-12

“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd,” skryf die Prediker. Daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterf, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek, ’n tyd om af te breek en ’n tyd om te bou. God het elke ding gemaak om te pas in ’n bepaalde tyd (Pred. 3). En dit is God se wil dat jy die tyd wat Hy aan jou toevertrou het met groot omsigtigheid sal behandel; dat jy die heel beste daarvan sal maak en die dae van die nuwe jaar só sal gebruik dat jy aan die einde van die jaar ’n wyser, meer volwasse mens sal wees as wat jy op die oomblik is.

Moet dus nie jou tyd verspeel in die jaar wat voorlê nie. Doen alle dinge wat na jou kant toe kom met entoesiasme en toewyding. Want daar is net één tyd wat werklik belangrik is, en dit is vandag. “Maak die beste gebruik van elke geleentheid” raai Paulus die gemeente in Efese aan (Ef. 5:16). Jy kan niks uit die verlede verander nie, en jy kan ook nie die toekoms voorspel nie. Jy weet nie eers wat môre vir jou wag nie. Gebruik vandag dus op die heel beste manier. “Vandag is die enigste tyd wanneer jy enige mag het,” sê Philip Yancey tereg.

Daar is net een tyd wat werklik belangrik is: Nou! Gebruik vandag asof jy géén ander tyd sal hê nie.

Hemelse Vader, sal U my asseblief help om in die jaar wat kom my tyd met groot omsigtigheid te gebruik. Help my om alles wat ek doen op die heel beste manier en met groot toewyding te doen. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.