Gedagte vir die dag: Die ewebeeld van die heerlikheid van God

landskap_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon. (Hebreërs 1:3)

Wat ’n wonderlike ryk en omvattende beskrywing van wie Jesus werklik is! ’n Mens kry selde al sy manjifieke eienskappe saamgevat in één vers soos wat hier gebeur. Tog is hierdie vers maar net een voorbeeld van die rykdom en diepte van die Hebreërsbrief.

Die skrywer van dié brief is onbekend, maar dit weerklink met taal en beskrywings wat van feitlik elke vers ’n stille oordenking maak. Die onderwerp van die boek Hebreërs, wat duidelik gerig was aan die skrywer se mede-Jode  “Hebreërs”), verduidelik eens en vir altyd dat Jesus regtig die Messias is wat in die Skrif (ons Ou Testament) belowe word.

Die onderwerp in Hebreërs is deurgaans dat Jesus die ewige Seun van God die Vader is en daarom verhewe is bo enige ander godsdienstige figuur of vorm van godsdiens. Op grond van wat Jesus vir ons bewerkstellig het en steeds tot stand bring, is ons in die oë van God perfek en heilig. Daarom word die Hebreërs, en ook ons vandag, herhaaldelik deur die skrywer aangemoedig om die boodskap van die brief ter harte te neem en vas te hou aan die boodskap wat ons gehoor het (Heb. 2:1), want dié waarheid wat ons gehoor het, verander ons lewe en bepaal ons ewige bestemming.

Kies ’n paar verse uit Hebreërs 1 en dink ’n rukkie rustig daaroor na. Dank God dat Hy sy Seun gestuur het.

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. en seëninge. Amen!

Von ·

Here Jesus aan U al die lof die dank en eer…U is my Redder . Dankie Genadige Vader

Gerrie ·

Soos Christus van dieselfde wese van die Vader is, is Hy ‘n afsonderlike persoon van die Vader, Hy wat vir ons intree by die Vader en deur wie ons genade by die Vader ontvang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.