Gedagte vir die dag:  Die ewigheid begin hier en nou

Wolke_pad_be…t_Dykema.JPG

Foto: Reint Dykema

Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. (Kolossense 3:2–3)

Jy het die ou mens afgelê. Jy is dood vir die sonde en wêreldse aanloklikhede. Die heel belangrikste is nou om Jesus te ken en te dien. Die hemel is reeds hier en so naby soos ’n gedagte. Jy hou jou besig met hemelse waardes, met die liefde, verdraagsaamheid en vergewingsgewindheid van Jesus. Daarom voel jy nie meer aangetrokke tot die sonde nie, al ken en onthou jy dit.

Paulus maak ’n lys van sondes so oud soos die berge: ‘Onsedelikheid, on­reinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is’ (Kol 3:5), woede, haat, nyd, ’n gevloek en ’n gelieg (lees Kolossense 3:8). Jy het daar­mee gebreek en word meer en meer verander om soos Jesus te wees. Jy loop met ligte tred, vry van jou sondelas.

Die hemel is ’n goeie plek en jy weet waarheen jy op pad is. Jakob het gedroom van ’n leer wat op die aarde staan en met sy punt aan die hemel raak en engele wat op- en afklim. In sy droom het God met hom kom praat en Jakob het besef: ‘Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel’ (Gen 28:17). Hy het dit Bet-El genoem, wat beteken ‘huis van God’.

Stefanus, wat bekend staan as die eerste martelaar vir Jesus, het die hemel sien oopgaan terwyl hy met die Joodse raad oor Jesus geredeneer het. Hy het ‘die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan’ (Hand 7:55). Die apostel Johannes het as banneling op die eiland Patmos, ’n visioen van die hemel beleef (lees Openbaring 4–5, 19–22).

Het jy al van die hemel gedroom? Dink jy ook aan die hemel en maak die gedagte daaraan jou bly?

Hemelvader, dankie dat ons die hemel hier op aarde al kan ervaar.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Amen . Dankie vir hierdie wonderlike boodskap, weer word ek herinner aan God se beloftes waarvan ek aan di wêreld se dinge my self ni moet toe knoop nie maar wel op die pad wat Christus vir my sê johan wandel op die pad wat ek vir jou wil leer. Om ‘n kind van God te wees is baie bid , elke oomblik van my asemhaling en te besef dat ek is nie volmaak nie maar in Christus Jesus is ek volmaakte skepping wat God geskape het. Dus vir my so wonderlik om te ervaar dat die HG is altyd alomteenwoordig . Ons moet mekaar se hande vat in geloof en saam altyd bid. Wees vandag meer as ‘n oorwinnaar in Christus Jesus. Shalom.

treurgrond ·

Het ek al van de Hemel gedroom? Ja ek het – ek droom dat ek Jesus daar sal vind – en dat my Groot Pappa en my aardse pappa daar vir my wag. Al wat my hartseer maak van die lewe soos ons nou lewe is die moorde wat net gepleeg word sonder enige rede – en die mense se hartseer wat ek dan nie verstaan nie – want dit kan net baie aie hartseer wees. God moet hulle asseblief vashou. Lief vir U my God.

SNEL ·

Baie dankie vir die pragtige dagstukkie. Het nodig gehad om dit net weer te besef. As kind van die Here moet ons fokus en gedagtes heeltemal anders wees. Die kommentare is net so goed, elke een kan ek net op Amen sê. Dankie julle almal. Soms dink mens jy skryf sommer net iets, maar vir iemand anders tref dit dalk diep en is ook net wat hulle nodig het om te hoor of hoe hulle voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.