Die Facebook faktor

Agter die woorde van ‘n huigelaar sit daar haat; wie skinderstories versprei, is ‘n dwaas. Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. Spreuke 10:18-19

Hoeveel vriende het jy? As die eerste getal wat by jou opkom jou aantal Facebook vriende is, is jy heel moontlik iemand wat, soos ek, vriendskappe aanlyn sluit en onderhou. Vandag kan jy nie meer oor vriendskap gesels sonder om na die sosiale media te verwys nie. Hoe hanteer ons as Christene ons aanlyn vriendskappe?

Natuurlik vertel die Bybel nie vir ons presies wat geskik is aldan nie om op jou Facebookbladsy te skryf nie, maar daar is sekere beginsels vir vriendskap wat ook aanlyn van toepassing is. Op stuk van sake het Paulus, Petrus en Johannes dikwels briewe geskryf aan Christene wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Hierdie briewe is hardop voorgelees en van kerk na kerk gestuur. Klink dit bekend? Vandag noem ons dit “viral marketing”.

Christene se primêre roeping is om liefde te bewys, om te groei in die liefde van Jesus Christus en om sy genade en waarheid in die wêreld te weerspieël. Wanneer ons van aangesig tot aangesig met iemand gesels, probeer ons dikwels wys dat ons omgee. Soms is dit nodig om nie die eerste ding wat in jou kop kom te sê nie, maar ‘n wag voor jou mond te plaas, veral wanneer dit ‘n gemene of katterige aanmerking is. Hoeveel te meer moet ons nie in die aanlyn omgewing versigtig wees nie. Ek is die eerste een om te erken dat ek al dikwels in die openbaar die verkeerde ding gesê het, en aanlyn kan dinge soveel erger wees. Iets wat ek vandag op my Facebookbladsy skryf, lyk soms die volgende dag heeltemal onvanpas en dan het ‘n hele klomp mense dit reeds gesien. Wat ek aanlyn kan sê, wat ek vir ‘n vriend persoonlik kan sê en wat ek eerder vir myself moet hou, is vir my steeds ‘n leer- en groeiproses.

Facebook kan ‘n wonderlike manier wees om vriendskappe te versterk en te onderhou, solank as ons onthou dat daar krag in woorde is; nie net in die gesproke woord nie, maar ook in daardie haastige opmerkings wat jy so vinnig op Facebook plaas.

Gebed: Here ek dank U ook vir my aanlyn vriende. Help my om aanlyn net so versigtig te wees met wat ek sê as wat ek is wanneer ek van aangesig tot aangesig met vriende gesels en help my om ook op die Internet u waarheid te weerspieël. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.