Gedagte vir die dag: Die fontein in jou

 meer-bankie-boom-ilonabruschl-stiltetyd.jpg

Foto: IlonaBruschl/pixabay.com

“Die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:14)

Het jy al ooit verby iemand gestap of in ʼn koffiewinkel gesit en gewonder hoe het hierdie persoon by hierdie uitrusting uitgekom. Niks pas by niks en niks pas by die persoon nie. Tog doen ons dieselfde elke dag in ons geestelike lewe. Deur geloof in Christus is ons met God versoen; is ons heilig, skoon en onberispelik voor Hom. Die ou dinge is verby en alles is nuut gemaak. Ons is beklee met sy geregtigheid, maar ons staan op en trek elke dag ons verlede, ons skaamte, ons verwyte, ons berou, ons tekortkominge aan. Ons dra ʼn oordeel wat nie van die Here af is nie, omdat ons nie glo ons is waarlik vrygespreek nie.

So leef ons elke dag in die verlede, in ʼn oomblik of ’n epog lank reeds verby. In plaas daarvan om te aanvaar dat Jesus reeds vir ons aan die kruis gesterf het en ons losgekoop het, kruisig ons onsself oor dieselfde dinge weer en weer en weer. Die ironie is dat ons dink deur dit te doen, deur onsself te straf, gaan ons op die een of ander wyse vry raak. Dit is egter nie die geval nie. Veroordeling sal jou net weer terugneem na alles waarvan jy probeer weghardloop. Dit is waarom Jesus sê Hy het nie gekom om ons te veroordeel nie, sodat ons gered kan word. Die enigste manier om vry van dit wat verby is te leef, is om sy genade en liefde vir ons te aanvaar.

Jesus nooi ons uit net soos ons is.

Hy sê toe ons nog sondaars was het Hy vir ons aan die kruis gesterf. Hy sê nie, sorteer jouself uit en dan is jy welkom by My nie. Hy sê kom net soos jy is. Ek maak alles nuut.  In hierdie pragtige verhaal van die  Samaritaanse vrou sien ons dat as ons net waarlik sal glo dat Hy ons regtig liefhet en die waarheid sal toelaat om ons vry te maak, sal ons in Hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en Hy sal aan ons ewige lewe gee. Nie net eendag nie, maar nou, in hierdie oomblik. Elke dag.

Gee jou droë, harde aarde van seer, bitterheid, spyt en verwyt vir Hom. Vir sy fontein van lewe, vreugde, vrede, kalmte van gees, vrolikheid, vergifnis, genade en liefde. Dit is joune! Moenie dat enigiemand, nie eens jou eie stemmetjie in jou kom, jou beroof van dit wat Jesus reeds vir jou gegee het nie. Begin leef vandag sonder angstigheid en vrees. Haal weer asem, voel die son op jou vel en glimlag breed, want dít is jou deel!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.