Gedagte vir die dag: Die galmende simbaal

simbaal-drom-stiltetyd-johannesschrepfer.jpg

Foto: pixabay/johannesschrepfer

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ʼn stuk klinkende metaal, ʼn galmende simbaal geword.” (1 Korintiërs 13:1 – AFR83)

‘ʼn Sensitiewe onderwerp vir baie… jou beeld op sosiale media. Wie en wat is jy regtig?

Ons lewe in ʼn tyd waar bykans almal, oud en jonk, aan die een of ander vorm van sosiale media behoort. Elkeen het ʼn profiel en kort voor lank is al waarom hul hele lewe draai, hul openbare beeld. Terwyl daar wel individue op sosiale media is wat oor die nodige emosionele intelligensie en volwassenheid beskik, word die meeste mense vasgevang in ʼn soeke na aanvaarding. Sosiale media is die heel laaste plek waar jy daarna moet soek om aanvaar te word.

Voordat mense hulself kon kry, het hul totaal en al tred met die realiteit, met hulself en die lewe as geheel verloor en draai hul hele lewe om hierdie valse beeld wat hulle van hulself uitstuur na buite, gedryf deur likes. Dit mag dalk lagwekkend klink, maar dink mooi daaroor.

Hoeveel maal het jy jouself of iemand anders al hoor praat oor daardie foto of boodskap wat hulle op sosiale media geplaas het en in etlike sekondes ʼn groot aantal likes gekry het? Of kom ek vra jou die volgende vraag: Aan hoeveel mense, jouself ingesluit, kan jy dink wat ʼn groot aanhang op sosiale media het, maar by die huis depressief, sielsongelukkig, alleen, eensaam of sonder enige werklike vriende sit? Nou is dit nie meer so snaaks nie. Dalk omdat hierdie aanhangers op jou sosiale media jou nie werklik ken nie, en die mense wat jou werklik ken, voel dat die beeld wat jy vertoon, nie ʼn eerlike of opregte weerspieëling van jouself en jou lewe is nie.

Dit is beslis iets om oor na te dink. Beteken dit dat jy nie op sosiale media mag wees nie? Nee, dit is geensins wat ek hiermee bedoel nie. Doen introspeksie, ken jou identiteit in Christus en leef volgens die standaard wat Hy daargestel het. Gaan dan en kyk na jou profiel en besluit of jou blad  ʼn ware weerspieëling van jouself is en maak seker dat jy net so mooi van binne is, as die beeld wat jy van jouself op sosiale media voorhou.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.