Gedagte vir die dag: Die Gees van God lei ons in die waarheid

Toekomspad

Argieffoto (Foto: Gopixpic.com)

Ek is die weg en die waarheid en die lewe. (Joh 14:6)

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. (Joh 16:13)

Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. (Joh 17:17)

Toe Jesus vir Pilatus vertel dat Hy gekom het om van die waarheid te getuig, het Pilatus ewe filosofies vir hom gevra: “Wat is waarheid?” (Joh 18:38). Min het hy geweet dat die antwoord op sy vraag reg voor hom gestaan het! In Johannes 14:6 het Jesus gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Jesus is die waarheid deur wie daar vir ’n verloregaande wêreld redding kan wees. As jy eers dié waarheid begryp, het jy in gemeenskap met God getree.

Die waarheid het ook ’n ander betekenis, naamlik die vermoë om te kan onderskei tussen reg en verkeerd. En juis daarom belowe Jesus dat die Heilige Gees wat ná sy hemelvaart na sy volgelinge toe sal kom, hulle in die waarheid sal lei. En hier gaan dit om meer as die waarheid dat Jesus die enigste Verlosser is. Dit gaan oor die moontlikheid om as kinders van die Here op die regte pad te bly. Gelowiges moet gedurig keuses uitoefen. Ons weet nie altyd sonder meer wat die regte keuse sal wees nie. En God wil ons help. Hy gee vir ons sy Gees en sy Woord om ons op die regte koers te hou. In sy hoëpriesterlike gebed bid Jesus dat die dissipels aan God toegewy moet wees deur die waarheid, en dan voeg Hy by: “U woord is die waarheid.”

Watter heerlike voorreg om oor God se Woord en sy Gees te beskik om vir ons dag vir dag die regte koers aan te dui.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.