Gedagte vir die dag: Die genesende krag van vergifnis

kinders_hardloop_veld_cannahealth_com.jpg

Foto: cannahealth.com

Wees vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het. (Efesiërs 4:32)

Om iemand te vergewe wat jou doelbewus seergemaak het, is een van die moeilikste dinge wat jy kan doen. Vergifnis stel jou egter in staat om aan te gaan met jou lewe en vry te wees. In 2 Korintiërs 2:7 staan daar: “Nou is dit die tyd om só ’n persoon te vergewe en by te staan, anders kan hy deur te veel berou verteer word.”

Dit is tyd om te vergewe en te bemoedig. Ons moet mekaar help om weer op die been te kom. God het ons so baie dinge vergewe, en ons moet dieselfde doen vir dié wat ons seergemaak het.

Ons maak almal baie foute in die lewe. Nogtans vergewe God ons vinnig as ons berou het en jammer sê. As jy bereid is om weer nuut te begin, sal God jou ontmoet net daar waar jy is. Kom ons vergewe ander soos wat die Here ons vergewe.

In die Bybel lees ons van ’n amptenaar wat die koning ’n groot hoeveelheid geld geskuld het (Matteus 18:21-35). Hy het die koning gesmeek om hom kans te gee om sy skuld af te betaal. Die koning het hom jammer gekry en sy skuld afgeskryf. ’n Rukkie later het die amptenaar ’n medeamptenaar teëgekom wat hom net ’n klein bietjie geld geskuld het. Die medeamptenaar kon hom nie terugbetaal nie; dus het die amptenaar hom aan die owerhede oorhandig. Toe die koning dít hoor, het hy vir sy amptenaar gesê: “Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy jou nie ook oor jou medeamptenaar ontferm het soos ek my oor jou ontferm het nie?” (vers 32-33). Die koning het die amptenaar aan die folteraars oorgegee om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het.

Ons moet mekaar vergewe sodat God ons kan vergewe. Ons baat dikwels meer daarby om iemand te vergewe as die persoon wat die vergifnis ontvang, want vergifnis genees ons.

Vader, U bied onvoorwaardelike vergifnis aan almal wat hulle voor U verootmoedig. Help my asseblief om ander ook só te vergewe sodat ek u vergifnis kan ontvang. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.