Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. (Matteus 5:48)
Die vermaning wat die Here tot ons rig in Matteus 5:3848 is om vrygewig te wees in ons omgang met alle mense. Waak daarteen om jou geestelike lewe volgens jou natuurlike toegeneentheid te leef. Elkeen van ons het natuurlike aanvoeling, ons hou van sommige mense en van ander nie. Tog moet ons nooit toelaat dat hierdie natuurlike voor en afkeure ons Christelike lewe beheer nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap … (1 Joh. 1:7), selfs met dié vir wie ons nie ’n natuurlike toegeneentheid voel nie.
Die voorbeeld wat die Here ons hier gegee het, is nie dié van ’n goeie persoon, of selfs van ’n goeie Christen nie, maar van God self. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt. 5:48). Met ander woorde: betoon slegs aan die ander persoon wat God aan jou betoon het. En God sal sorg dat jy meer as voldoende geleentheid in die werklike lewe kry om te bewys of jy volmaak is soos jou hemelse Vader volmaak is. Om ’n dissipel te wees beteken dat jy jouself doelbewus identifiseer met God se belang in ander se lewe. Jesus sê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh. 13:34-35).
Die ware openbaring van ’n Christelike karakter lê nie daarin dat ons goed doen nie, maar dat ons soos God is. As die Gees van God jou van binne af verander het, sal jy goddelike karaktertrekke begin vertoon en nie slegs goeie menslike eienskappe nie. God se lewe in ons kom tot uitdrukking as God self se lewe en nie as ’n menslike lewe wat ons probeer vergoddelik nie. Die geheim van ’n Christen se lewe is dat die bonatuurlike in hom natuurlik word as gevolg van die genade van God, en die ervaring daarvan word sigbaar in die prakties, alledaagse detail van die lewe en nie in tye van intieme gemeenskap met God nie. Wanneer ons dan in aanraking kom met dinge wat verwarring en oormatige aktiwiteit bewerk, vind ons tot ons eie verbasing dat ons die krag het om wonderlik gebalanseerd te bly te midde van alles.