Gedagte vir die dag: Die goedheid en liefde van jou Herder

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: Psalm 23

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly. (Psalm 23:1, 6)

Dawid begin Psalm 23 met ’n belofte: Omdat God sy herder is, kom hy niks kort nie. Met God by jou is jy elke dag van jou lewe verseker van jou Herder se goedheid en liefde vir jou. En hierdie goedheid en liefde duur jou hele lewe lank! Hy sal ook vir jou in die toekoms wat voor jou lê, voorsien. Jy hoef nooit weer sonder die Herder se versorgende liefde klaar te kom nie.

Omdat ons net mense is, is dit feitlik ’n gegewe dat ons in die lig van ons omstandighede bekommerd sal wees oor die toekoms. Wanneer jy ouer word en jou kragte neem af, wanneer alles duurder word en jy net nie meer soveel beheer oor jou omstandighede het as vroeër nie, raak jy soms bekommerd. Dan kan jy seker wees dat jou Herder se goedheid en guns jou lewe lank sal duur. Jou Herder sal jou steeds optel en dra as jy nie self verder kan loop nie. Hy is ook daar in jou toekoms om jou met sy liefde te omvou. “Hou aan hierdie belofte vas, vertrou daarop en vier dit – jou lewe lank. God se beloftes steek ’n kers in jou hart aan en skep ’n gloed van hoop in jou wat enige twyfel oor jou toekoms sal verdryf. Besef vandag dat jy die onbekende met die bekende ingaan – met bewyse van die sorg en liefde van God, jou goeie Herder, die Een wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is,” skryf Elizabeth George in Vrede en vertroue vir ’n vrou se hart.

Vader, ek los nou my bekommernis oor die toekoms by U, omdat ek weet dat u goedheid en guns my ook daar sal omvou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.