Gedagte vir die dag: Die Goeie Herder

skape_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder. (Johannes 10:14-16)

Die goeie herder lei sy skape, terwyl die swak herder sy skape dryf. Dis net soos ’n leraar van die evangelie: Hy is ook ’n herder; hy behoort sy gemeente te lei deur voor te loop en hulle nie van agter af te dwing nie. Jy kan mense nie dwing om dinge te doen nie – jy moet hulle deur middel van jou voorbeeld lei.

In Lukas 15:4-5 staan daar: “As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie? En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra.”

Jesus het my en jou so lief dat Hy sy tuiste in die hemel verlaat het en afgekom het aarde toe om die lewe van ’n gewone mens te lei. Hy het dit gedoen sodat Hy ons kon lei deur middel van sy voorbeeld. Wanneer iemand iets verkeerds doen en mense nie met die persoon wil praat nie, het Jesus nog steeds daardie persoon lief. Dit maak nie saak wat mense gedoen of nie gedoen het nie, Hy het hulle nog al die tyd net so lief. Dit geld ook vir ons – maak nie saak wat ons doen nie, Jesus het ons onvoorwaardelik lief.

Let op wat die herder in die storie gedoen het. Hy het nie die verlore skaap gejaag of geslaan omdat hy weggeloop het nie. Hy het hom op sy skouers getel en huis toe gedra. Die Here straf ook nie. Hy sê dat as ons na Hom toe gaan, Hy ons sal help. Jesus Christus sê vir ons om huis toe te kom as ons verlore is. Hy sal jou nie aanjaag of wegstoot as jy moeg is nie. Hy sal jou optel en jou huis toe dra en vir jou ’n nuwe lewe gee.

Moenie uitstel nie. Die Here roep jou; Hy soek na jou. Die Goeie Herder wag vir jou sodat Hy jou in sy arms kan dra.

Dierbare Jesus, ek is gereed en gewillig. Red my asseblief en tel my in u arms op. Ek het ver van U af weggeloop, maar ek is gereed om huis toe te kom. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Dankie Abba Vader dat U my n sondaar onvoorwaardelik liefhet. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.