Gedagte vir die dag: Die goeie stryd

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. (1 Timoteus 6:11)

Paulus het Timoteus tydens sy tweede sendingreis in Listra ontmoet. Hy was ’n gelowige jongman wat toe saam met Paulus vertrek het. Hulle het goed klaargekom en Paulus het hom in Efese agtergelaat om na die gemeente daar om te sien. Paulus waarsku hom in sy brief teen dwaalleringe en wêreldse rykdom en eer. Die twee Timoteus-briewe en die een aan Titus word herderlike of pastorale briewe genoem. Twee jong leiers word hier van raad bedien deur ’n ervare geestelike leier. Gemeenteorganisasie wat voorskrifte insluit oor die aanstelling van ouderlinge en diakens, voorbiddingaksies en die inhoud van die prediking word deeglik uiteengesit tesame met raad oor hul persoonlike geloofslewe.

Lees gerus hierdie briewe indien jy die leiding gaan neem by een of ander diensaksie in jou gemeente. Paulus waarsku teen dwaalleringe en die onnodige gekibbel oor strydvrae. Hy vermaan Timoteus ook om nie toe te gee aan die versoekings wat gelowiges van koers af kan ruk nie. Hy moet daarna streef om in gehoorsaamheid aan Jesus sy opdragte stiptelik en getrou uit te voer tot die dag dat Jesus weer sy verskyning sal maak.

Soos Timoteus wag ek en jy ook op daardie dag en soos Timoteus streef ons na die eienskappe wat ons gereed sal maak om Jesus te ontmoet – opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding en minsaamheid.

Troue Herder, dis so duidelik wat U van ons verwag. Ons wil gehoorsaam wees en U getrou volg, maar soms loop ons ons vas in ʼn wildernis van dorings en dissels. Kom haal ons asseblief, elke keer.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.