Gedagte vir die dag: Die graf is leeg en oop

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Lees Markus 16:1-8

“Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” (Markus 16:3)

As daardie Vrydag ‘n betekenisvolle dag was, was die Sondag van werklik aardskuddende belang. Dit was die dag toe ‘n leë graf inhoud gegee het aan ‘n wêreldmenigte se beskouings oor lewe en dood.

‘n Dag vol menslikheid. Vol magteloosheid, onbegrip, vrees. Ook die dag toe die dood sy laaste stuiptrekkings gegee het. Maar hoekom, sal ons in ons skeptiese oomblikke wonder, gee ons steeds groot geld uit en ry kilometers ver agter geneeshere en hul middels aan, en na hospitale en dié se prosedures? Waarom sluk ons boererate en heksebrousels soos water?

En wat van dié wat eensklaps begin bid-en-glo en allerlei (voorgeskrewe) geestelike geneesmiddels probeer, met iets soos “’n wáre, oprégte en ongetwyfelde kwaliteitgeloof” as voorwaarde?

Want eintlik, dit weet ons mos, is dit baie eenvoudiger om ons vrees vir die dood te hanteer. Opstandingsondag leer ons immers dat dit nie ons is wat wonderwerke of geloofsheldedade hoef te doen om aan ons doodse vrees te ontkom nie.

Nee, ons kán maar vreesbevange weghardloop, soos die vroue. Ons mag maar haastig-haastig koers kies na die naaste dokter en so tussendeur ons ore uitleen aan hulle wat dié paadjie ken.

Maar uiteindelik hoef ons, die banges, nooit te wonder wie die klip voor die ingang van die graf vir ons sal wegrol nie. Dit is tog reeds gedoen. Kyk maar goed: Die graf is leeg en oop.

Ons Heer het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan. Hoor net daar: die Paasfeesklokke!

Bron: Uit die Beek 2021 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.