Die grootste geskenk

Luk. 7: 15: “Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.”

‘n Skare mense by die poort van Naïn het die mees ongelooflike toneel in hulle lewe aanskou. Die lyk van die jongman op pad om begrawe te word, sit opeens regop. En hy begin praat.

Dit is opmerklik dat Lukas vermeld dat hy begin praat. As geneesheer het Lukas geweet – soos wat dokters vandag steeds weet, dat ‘n persoon se vermoë om te praat na ‘n hoofbesering, bewusteloosheid of ‘n kortstondige hartstilstand, een van die sekerste maniere is om vas te stel of hy/sy breinskade opgedoen het. Daardeur wil Lukas vir ons sê dat hierdie man, wat vir hoeveel ure dood was, nie net weer lewend gemaak is nie, maar ook geen breinskade opgedoen het nie! Die Here doen nie net wonderwerke nie, Hy doen ‘n volmaakte werk!

Dan gee Jesus hierdie jongman aan Sy moeder terug. Hy roep hom nie om saam met Hom te gaan as dissipel nie – dink net watter getuienis hy kon wees! Nee, Jesus het geweet dat Sy moeder hom nodiger het as wat Hy hom het. Vir die een sê Hy: “Verlaat jou vader en jou moeder”, vir die ander een sê Hy: “Gaan sorg vir haar.”

Watter gawe! Watter vreugde! Vir die weduwee van Naïn kon daar geen groter geskenk as dit wees nie, niks wat sy eerder sou wou hê nie.

Jesus gee graag sulke gawes. Hy gee ons graag aan ons dierbares terug nadat Hy ons Sy nuwe lewe gegee het. Trouens, dit is die grootste geskenk wat enige ouer kan ontvang, as jou kind, of enige dierbare wat geestelik dood was, deur die Here aan jou teruggegee word.

Miskien is daar ook iemand “agter wie se draagbaar” jy vandag aanloop.

Gebed: Ek bid U, o Here, om ook my geliefde wat geestelik dood is aan my terug te gee. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.