Gedagte vir die dag: Die hart van die heelal

(Foto: Unsplash)

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. (1 Johannes 4:7)

Teilhard de Chardin (1881-1955), ’n Franse Jesuïete-priester en opgeleide paleontoloog en geoloog, skryf dat liefde die fisiese hart van die heelal is. Hy het liefde as die krag beskou wat alle dinge na mekaar aantrek, die universele krag wat orde skep.

God is liefde. En die liefde is uit God. God is en bly die bron van liefde. Hy het sy liefde vir die mens sigbaar betoon toe  Hy sy Seun na ons toe gestuur het. En deur die Heilige Gees stel God óns weer in staat om lief te hê.

Die Bybel bevestig De Chardin se woorde: Liefde is die fisiese hart van die heelal. En daardie hart is God self.

Wanneer ons na Dawid se geskiedenis kyk, sien ons dat geen verhouding kan standhou sonder dat dit in God se liefde gewortel is nie. Sonder Hom is ons verhoudinge bolangs en vlietend. Saul se liefde vir God was bloot lippediens. Die praktyk het duidelik gewys dat hy nie ’n lewende verhouding met God gehad het nie. Daarom kon hy ook nie sinvolle verhoudinge met sy medemens hê nie. Die uiteinde was dat hy alleen en sonder God gesterf het.

Dawid het – ondanks sy sonde – bly vasklou aan sy liefde vir God. In sy diepste oomblikke van wanhoop en berou roep hy uit: Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart (Psalm 13:6).

God se liefde is die kloppende hart van die skepping. Dit hou alles in stand.

Here, dankie vir die krag van u liefde. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.