Gedagte vir die dag: Die hele skepping juig

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel! (Psalm 148:1)

Het jy al die sterre hoor sing iewers in die Vrystaat of in die Karoo of op Matroosberg in die Hexriviervallei? Het jy al skoenlappers in swerms sien trek, springbokke oor die veld sien dans en dolfyne deur die branders sien glip, die Namakwalandse blommeprag sien lag? God het dit ge­niet om elke blom en dier en mens spesiaal te maak en met die vermoë om Hom te loof. Hy hoor sy skepping juig: ‘Halleluja, aan sy liefde is daar geen einde nie!’

Wat kan ek meer sê as die digter van Psalm 148?

‘Prys Hom, alle engele, prys Hom alle hemelwesens! Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre! Prys Hom, hoogste hemele en waters in die hoë hemelruim! Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep; Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee, vir hulle ’n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie. Prys die Here van die aarde af, seediere en al die oseane, weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wil­de diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde, jong manne en meisies, grysaards saam met seuns! Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel’ (Ps 148:2–13).

Heilige Here, as ek u skepping aanskou en hoe U alles aanmekaar­gesit het en steeds onderhou, raak my woorde op. Saam besing ons u skeppingsmag, u kunstenaarshande, u ingenieursprestasies, die skoonheid en lewenskrag wat U vir elke lewende wese ingebou het, selfs vir dinge wat oënskynlik dood is. U hele skepping prys U.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elize Colton ·

Amen en Amen. Dankie, Here vir U wonderlike Skepping. Ons juig almal saam daaroor en is so dankbaar vir Genade Onverdiend.

Isabelle ·

Elke dag kan ons net aanskou en waardeer hoe wonderlik is die werke van Ons Goeie Vader.

Ilse Muller ·

Prys die Here want Hy is goed aan sy Liefde is daar geen einde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.