Gedagte vir die dag: Die hemel getuig

 see_strand_stiltetyd_Nedine-Blom.jpg

Foto: Nedine Blom

Lees Psalm 19:2-7

Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2)

Die ou geloofsvaders het gesê ‘n mens kan God deur sy Woord en deur sy skepping leer ken. Vir sommige mense is die Woord deurslaggewend: Hier hoor jy die Here se stem en so verneem jy sy voorskrifte. Dit is die bron van jou troos, hier leer jy hoe om te lewe. Dit is die lig op jou pad en die lamp vir jou voet.

Hierdie begenadigde mense lees die Woord maklik en gereeld. Hulle verstaan wat hulle kan verstaan en gaan soek na ‘n verklaring vir die moeilik verstaanbare gedeeltes. God se Woord is vir hulle vertroude en betroubare leesstof. Tussen die voosgevatte bladsye leer hulle God ken, in soverre Hy Hom laat ken.

Daar is wel ook dié wat om ‘n verskeidenheid redes moeiliker aan ‘t Bybellees kom, indien hoegenaamd. Dalk kan hulle nie, dalk wil hulle nie. Straks het hulle lankal opgegee met hierdie ou, stowwerige klomp geskrifte. Vir hulle is die Bybel vir alle praktiese doeleindes ‘n geslote boek.

Hierdie Bybelarmes sal God op ‘n ander manier moet leer ken, as ons die ou vaders wil glo. Hulle sal moet luister as die hemel getuig. Hulle sal diep in die uitspansel moet intuur om iets van God te sien.

Ag, dalk nie só diep nie. Dalk moet hulle bloot die boodskap van die dag-en-nag-wisseling ter harte neem, die son se stralende hemelreis dophou. As jy ‘n oog daarvoor ontwikkel, sal jy waarskynlik ook die hand daaragter kan raaksien en sy spoor in die melkweg volg.  En jou sy krag kan verbeel.

Wie God só leer ken, ken Hom baie beter as baie.

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! Hoe glansryk is u majesteit.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Elke dag staan ek in verwondering oor U Grootheid , U Heiligheid. Dankie vir die Woord en dat ek elke belofte my eie mag maak. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.