Gedagte vir die dag: Die hemel is vir almal

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos ’n duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. (2 Petrus 3:8–9)

Jesus verkoop nie huise in die hemel nie. Hy maak vir ons woonplek gereed sonder om huurgeld te vra. Wanneer Hy die skatte van geloof, hoop en liefde uitdeel, gee Hy dit verniet weg. Dit word nie opgeveil aan die hoogste bieder nie. Dit word ook nie afgemerk en op ’n uitverkoping uitgepak nie. Dis nie vir die eerste en vinnigste kopers om alles op te raap nie. Daar is genoeg vir almal – die stadiges, die oues en gestremdes, ook die ongeduldiges.

Soveel van ons het die geskenk van verlossing aanvaar en kan nie wag om die volgende pakkie te kry en oop te maak nie – die ewige lewe, die rus en vrede in ons nuwe woning. Om nie van die wederkoms van Jesus te praat nie. Kan Hy nie maar kom en ons red uit ons aardse sukkelbestaan nie? wil ons weet.

En met tipiese menslike selfsug dink ons al weer net aan onsself. Ons hardloop om eerste in die ry te staan, eerste ons geskenke te kry en vergeet van hulle wat nog nie aangekom het nie. Ons tydlose God wat dag en nag en seisoene geskep het, steur Hom nie aan die afbakening van minute, sekondes, dae, maande en jare nie. Hy het sy eie tyd en Hy is nie haastig nie. Hy wag geduldig vir almal wat Hy uitverkies het, om nader te kom – en dit is die hele mensdom.

Het jy al jou pakkie gaan haal?

Here, ek bid vandag dat almal betyds sal opdaag, almal wat U in liefde geroep het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke  
Vir meer geestelike artikels besoek  http://www.joydigitalmag.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gertjie ·

Die Hemel is vir almal.
Wat soek ons hier op aarde dan? Ps 37 wys God se voorneme soos hy dit van die begin af in Genesis wou he. Dat mense op aarde geskep is en hier moet bly.

Tollies ·

Prys die Here Hy is Almagtig en Heilig geen Jaloesie of trane hoe wonderlik om daar aan te dink soos hierbo geskruiwe die stadige een sal ook sy woning kry. Die aarde is n tydelike woning die Hemel is vir ewig en ewig

Reinier ·

goeienaand Tollies,

U sê die aarde is ‘n tydelike woning en die Hemel is vir ewig, hoekok u sê die aarde is net tydelik?

Lees sommer hierde twee verze, daar is meer maar hierdie sal dit gou duidelik maak:

Psalm 104:5
Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.

Psalm 37:29
Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

Dit is duidelik die aarde sal vir ewig bestaan, dis nie net tydelik nie. God se voorneme het altyd gewees om mense op die aarde te kan hê. Het u hierdie twee verse ooit raak gesien?

Groete

Reinier

Anoniem ·

Ons is hier op aarde om n keuse te maak en dis maklik of hel of hemel. Besef net jy is n sondaar en vra om vergifnis. Bely en word gered.

Jan Jooste ·

Petrus se dat vir die Here is gelyktydig; een dag soos duisend jaar en omgekeerd. Twee oenskynlik totaal teenstrydige stellings wat tergelykertyd waar is! Wat ek verstaan is dat ek net dankbaar moet wees vir alles, my denke sal nooit by God se denke uitkom nie. Hy hoef hom ook nie aan my te kom verduidelik nie. Voorspoed, Jan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.