Gedagte vir die dag: Die hemel is waar God is

Ons-Vader-in-die-hemel

Argieffoto.

Lees: Nehemia 9:6-12

U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin.  U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U. (Nehemia 9:6)

Omdat ons mense is, kan ons ons nie voorstel hoe die hemel is nie.  Johannes se beskrywing in Openbaring van ’n plek met goue strate, pêrelhekke en fondamente van edelstene is maar beeldspraak as ’n poging om ons ’n idee te gee van die onbeskryflike heerlikheid wat eendag ná hierdie bedeling vir ons voorlê.  Al kan ons nie nou al naastenby weet hoe dit sal wees nie, het die meeste van ons tog ’n gedagteprentjie van groen velde, ewige geluk en God se teenwoordigheid.

Daar is wel al baie boeke oor die hemel en hoe dit daar is, geskryf deur mense wat beweer dat hulle self daar was.  Ek sukkel egter om dit ernstig op te neem.  Vir my is dit genoeg om te weet dat daar ’n hemel ís, ’n plek waar ons eendag ná ons dood vir altyd gelukkig in God se teenwoordigheid sal wees en waar ons met ons geliefdes herenig sal word.

‘Vir die Christen is die hemel die plek waar Jesus is.  Ons hoef nie te spekuleer oor waar dit is en hoe dit in die hemel sal wees nie.  Dit is genoeg om te weet dat ons daar vir ewig saam met Hom sal wees,’ sê William Barclay tereg.

Hou dus op om jou kop te breek oor besonderhede van die hemel.  Al wat jy hoef te weet, is dat jou plek daar reeds voorberei is as jy in Jesus glo (Joh. 14:2-3).

Here Jesus, dankie dat ek nie langer my kop hoef te breek oor waar die hemel is of hoe dit daar sal wees nie.  Vir my is dit genoeg dat ek daar vir altyd by U sal wees.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ada ·

Baie dankie
Sal ek defnitief my familie wat reeds gesterf het daar raakloop en herken? Sal hulle my herken? Ek wonder altyd daaroor.

kobus ·

Christus is na Sy opstanding herken deur die mense wat Hom geken het voor Hy gekruisig is. Hy het selfs herkenbare tekens van die kruisiging aan Sy liggaam gehad(gate van die spykers deur Sy hande en die spies in Sy sy, Joh. 20:27).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.